|

AfriForum verkry bevel teen grondgrypers

AfriForum het vandag ’n bevel in die Noord-Gautengse Hoë Hof in Pretoria verkry om die beleërde gemeenskap van Elandsfontein in die suide van Johannesburg te ondersteun in die verwydering van grondgrypers wat op arbitrêre wyse privaat eiendom aan hulself toegeëien en strukture begin oprig het.

Dit volg nadat dié gemeenskap se pleidooie om hulp aan die De Deur-polisiestasie op dowe ore geval het.

“ʼn Desperate gemeenskap het AfriForum genader, wat op sy beurt ’n dringende aansoek voor die hof gebring het om die grondgrypers in hul spore te stuit. Die tussentydse hofbevel sal nou op die grondgrypers teenwoordig beteken word, waarna reëlings getref sal word om die strukture te verwyder en die grondgrypers die omgewing te ontsê,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

“Die arrogansie waarmee die grondgrypers hierdie misdade pleeg, is vreesaanjaend. Die hofbevel sal so gou moontlik uitgevoer en afgedwing word. Die gemeenskap het alle vertroue in die SAPD verloor, wat eenvoudig toekyk hoe misdaad onder hul neus gepleeg word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Cameron sê ook dat onluste en grondgrype met die inwerkingstelling van vlak 3-regulasies weer begin kop uitsteek.

Kamfer beklemtoon dat dit baie belangrik is dat grondeienaars hulself van hul regte vergewis en gebeurlikheidsplanne in plek stel om enige poging tot grondgrype in die kiem te smoor. Dit is ook belangrik om grondgrype onmiddellik aan te meld en AfriForum dadelik te kontak.

Soortgelyke plasings