AfriForum verkla twee staatshospitale oor behandeling van plaasaanvalslagoffer


Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan vandag twee staatshospitale by dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, verkla weens die onprofessionele en nalatige hantering van ’n man wat tydens ’n plaasaanval ernstig beseer is.
Berdus Henrico (39) is Dinsdagaand (6 Februarie) op ’n plaas naby Vaalwater aangeval. Hy is drie keer geskiet en het ernstige kopwonde opgedoen, insluitend ’n wond wat ongeveer 7 cm lank is.
Henrico is Dinsdagaand by die F.H. Odendaal Hospitaal in Nylstroom (Modimolle) opgeneem, waar hy aanvanklik na wense behandel is. Woensdag is hy na Polokwane Provincial Hospital oorgeplaas waar hy vir ure in die wagkamer by ongevalle moes wag. Nadat skanderings gedoen is, het hy nie meer ’n bed gehad nie en moes hy in die hospitaal staan en wag vir verdere behandeling. Hy het ook geen pynmedikasie ontvang nie. Hy is daarna oorgeplaas terug na F.H. Odendaal, waar hy lank in ongevalle gelê het. Henrico het gesmeek vir pynmedikasie, maar moes baie lank wag voordat enige medikasie toegedien is. Hy het die personeel ingelig dat die medikasie nie werk nie, maar hulle was nie bereid om hom verder te help nie. Daardie aand het hy gesmeek om ontslaan te word omdat hy te veel pyn gehad het, waarvoor hy nie behandeling ontvang het nie. Henrico moes ook drie keer deur die nag vir die hospitaalpersoneel, wat besig was om sokker te luister, vra om die radio sagter te sit, omdat dit hom daarvan weerhou het om te slaap. Intussen is die koeëls nie uit sy liggaam verwyder nie. Die personeel en sekuriteit by beide hierdie hospitale was ongeskik met hom en sy verloofde, ten spyte van die feit dat hulle erg getraumatiseerd was ná die plaasaanval.
Uiteindelik is Henrico na ’n privaat hospitaal in Warmbad (Bela-Bela) geneem, waar by deur ’n privaat dokter behandel is.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat hierdie op ’n growwe skending van Henrico se regte neerkom en eis dat die minister van gesondheid persoonlik ingryp.
In ’n skrywe aan dr. Motsoaledi het AfriForum die volgende geëis:

  1. Dat ’n formele ondersoek na die optrede van die personeel by hierdie hospitale geloods word en dat dissiplinêre stappe geneem word, indien nodig;
  2. Dat ’n formele apologie aan mnr. Henrico en sy geliefdes uitgereik word;
  3. Dat Suid-Afrikaanse boere verseker word dat hulle nie aan diskriminasie onderworpe is by die departement van gesondheid nie;
  4. Dat ’n dringende vergadering tussen die minister en AfriForum belê word om die kwessie van plaasaanvalle te bespreek, asook die departement se reaksie op dié krisis.

Soortgelyke plasings