AfriForum verkla EFF-leierskap van aanhitsing tot geweld

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes van aanhitsing tot geweld en verskeie ander misdade teen Julius Malema, Floyd Shivambu en Mbuyiseni Ndlozi van die EFF ingedien.

 Dié klagtes spruit uit verskeie stellings wat deur hierdie persone op openbare platforms gemaak is met betrekking tot die landwye vandalisering van winkels wat aan die H&M-konsessie behoort.

 Hierdie optrede was in reaksie op ’n beweerde rassistiese advertensie deur H&M, waarin ’n swart seun ’n sweetpaktop aanhet waarop die woorde “Coolest monkey in the jungle” staan.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die leierskap van die EFF – wat Malema (bevelvoerder), Shivambu (adjunkpresident) en Ndlozi (woordvoerder) insluit – verantwoordelikheid aanvaar het vir die misdade wat by H&M-winkels gepleeg is en dat dié misdade aktief op openbare platforms aangehits word.

Malema het hierdie optrede tydens ’n politieke toespraak in Pietersburg (Polokwane), Limpopo, asook op sosiale media aangehits. In reaksie op ’n versoek dat geweld en misdaad nie gebruik moet word om rassisme te beveg nie, het Malema op Twitter gereageer met die woorde: “We can’t be lectured by cowards on how to conduct revolution.”

Shivambu het foto’s van ’n gevandaliseerde H&M-winkel op Twitter geplaas, met die woorde: “That @hm nonsense of a clothing store is now facing consequences for its racism. All rational people should agree that the store should not be allowed to continue operating in South Africa. Well done to Fighters who physically confronted racism”.

 Ndlozi het onder meer die volgende op Twitter geplaas: “In our vocab: anti-black racism is violence! U asking us to confront violence by giving the other check [sic]. BUT how many times have blacks given the other check [sic] on the racism question? Well there are no more cheeks left. We shall send petitions no longer, it’s time for Confrontation!”

 “Die EFF se reaksie op die H&M-advertensie is ’n blote voortsetting van die party se eie rassistiese politieke agenda,” sê Roets. “Dit is eerbaar om teen rassisme beswaar te maak. Wanneer geweld gepleeg en aktief egter aangehits word, behoort die verantwoordelike persone vervolg te word.”

Soortgelyke plasings