|

AfriForum vereer skeppers van hoop

Gemeenskapsveiligheid het vanjaar tydens die AfriForum Nasionale Kongres toekennings aan AfriForum-buurtwagte wat uitnemende diens gelewer het om die veiligheid van hul onderskeie gemeenskappe te bevorder, oorhandig.

Daar is hoofsaaklik twee kategorieë van toekennings: Die eerste behels uitnemende algemene diens ter verbetering van die veiligheid van gemeenskappe. Presteerders in dié kategorie het pennings ontvang. Die ander kategorie fokus op uitnemendheid in spesifieke voorvalle. Individuele medaljes is in hierdie kategorie aan presteerders oorhandig.

’n Spesiale toekenning is vanjaar aan Etricia du Toit (72), ’n plaasaanvalslagoffer, oorhandig vir dapperheid en uitnemende diens. Sy is in Meimaand in haar suster se huis op ’n kleinhoewe in Leeuwkloof, sowat 25 km noordoos van Pretoria, oorval. Drie rowers het eers een van die huiswerkers oorval en vasgebind, en daarna vir Du Toit deur haar kakebeen geskiet, waarna hulle in haar Mercedes-Benz gevlug het. Familielede beskryf Du Toit as ’n “ystervrou” en sê sy het nog geen traan sedert die voorval gestort nie.

AfriForum gaan ook later vanjaar ’n spesiale toekenning doen ter nagedagtenis aan Izak Pieters, ’n voormalige lid van AfriForum se Hennopsrivier-buurtwag.

Pieters, wat tydens die kongres ’n toekenning vir sy gemeenskapsdiens as buurtwagorganiseerder sou ontvang, is op 24 Augustus tydens ’n misdaadvoorval vermoedelik aan natuurlike oorsake oorlede. Hy was in sy vroeë 70’s en was kort voor sy dood baie siek weens lugweginfeksie.

Hy het op die dag van sy dood ondersoek gaan instel by ’n huis wat deur inbrekers gestroop is. Die buurtwag het inligting oor ’n verdagte ontvang, hom opgespoor en agtervolg. Pieters is met ’n klip gegooi, maar nie ernstig beseer nie. Die verdagte is kort daarna aangekeer. Pieters en die ander buurtwaglede het oor die voorval gestaan en gesels toe hy skielik inmekaar gesak en gesterf het.

Volgens Cameron was Pieters ’n absolute legende en was die buurtwag sy passie. Hy het verskeie buurtwagte gestig, mense opgelei en talle inhegtenisnemings gedoen. Hy was ook nou betrokke by die ondersoek en bekamping van plaasaanvalle.

Soortgelyke plasings