|

AfriForum verdoem dubbele standaarde rondom rassisme by MRK

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag in ’n voorlegging by ’n nasionale verhoor van die Menseregtekommissie (MRK) oor rassisme en die sosiale media in Johannesburg geen doekies omgedraai oor watter dubbele standaarde rondom dié kwessie in die land toegepas word nie.

Hy het gewys op die groot frustrasies wat daar onder minderhede en lede van AfriForum bestaan oor hoe rassistiese voorvalle in die algemeen en in die media hanteer word. Hy het verskeie voorbeelde voorgehou wat daarop dui dat swart oortreders nie oor dieselfde kam as wit mense geskeer word wanneer dit by rassisme in die sosiale media kom nie.

Roets het gesê die argument in Suid-Afrika is gereeld dat wit mense moet ophou kla omdat hulle glo ryk is en omdat dít die geval is hulle nie die reg op beskerming as ’n minderheid het nie.

Die voorbeelde wat hy gebruik het om te illustreer hoe wit mense se rassistiese uitsprake meer aan die groot klok gehang word en swart mense ligter daarvan afkom, was die geval van Penny Sparrow vs Velaphi Khumalo. Sparrow, ’n eiendomsagent, het in ’n gewraakte uitspraak na swart mense op die strand as ape verwys en sy is ’n boete van R150 000 opgelê. Khumalo, ’n werknemer van die departement van sport, kultuur en rekreasie, het in reaksie hierop gesê die land moet van wit mense skoongemaak word en hulle moet dieselfde behandeling kry as wat Hitler met die Jode gemaak het. Khumalo is net intern ondersoek.

In nog ’n voorbeeld is die ekonoom Chris Hart gekruisig en afgedank nadat hy op Twitter gesê het sommige swart mense ’n het mentaliteit dat hulle op dinge geregtig is. Aan die ander kant het die kabinetsminister Lulu Xingwana op internasionale televisie gesê jong Afrikanermans word grootgemaak volgens die Calvinistiese oortuiging dat hulle vroue, kinders en alles besit en dat hulle daarom lewens mag neem. Xingwana is steeds in haar pos.

Verder ter illustrasie van dubbele standaarde het Roets verwys na die aandrang van die regering om straatname soos Kerkstraat te verander, terwyl Kingsway Street in Amanzimtoti verander is na Andrew Zondo Street. Zondo het in Desember 1985 ’n bom geplant in die Sanlam-winkelsentrum waartydens drie vroue en twee kinders gedood en 40 mense beseer is.

Roets het ook verwys na ’n voorval waar hy persoonlik twee jaar gelede op twitter met die dood gedreig is. Hy het die saak by die polisie aangemeld waarna die ondersoekbeampte aan hom erken het dat hy nie eens weet wat twitter is nie en dus nie weet hoe om die saak te ondersoek nie.

Hy het afgesluit en verwys na voorleggings deur ander instansies wat gister breedvoerig uitgewy het oor ’n wit persoon wat die woorde “daardie mense” teenoor ander gebruik het. “Ek wens regtig ek kan hier sit en kla oor mense wat na wit mense as ‘daardie mense’ verwys. Ons werklikheid is dat ons lede daagliks met verkragting, aanranding en self volksmoord gedreig word op sosiale media. Ons realiteit is dat ons ’n president het wat in die parlement sê ons moet aanvaar dat ons minder regte het omdat ons ’n minderheid is.

“Ons werklikheid is dat daar die afgelope twee weke 11 wit boere en gesinslede op plase vermoor is waarvan sommige gemartel is.

“Ek kan aangaan om aan ’n openbare debat oor rassisme deel te neem, maar as ek eerlik moet wees is ons by die punt waar ons vertroue in dié debat verloor het.”

 

Soortgelyke plasings