AfriForum-veiligheidstrukture in Overstrand verleen bystand in Hermanus- en Franskraal-brande


AfriForum se Alfa- en Groter Gansbaai-buurtwagte, asook die Hemel-en-Aarde-plaaswag, het tydens verlede week se veldbrande in Hermanus en Franskraal bystand aan verskeie rolspelers verleen. Die buurtwaglede het onder meer gehelp om eiendomme in gevaarsones te ontruim en brande te blus. AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture het saam met brandweerspanne van Overstrand en die omliggende dorpe onverpoos die vure beveg om seker te maak dat skade beperk word.

Geen sterftes is tydens dié bystand aangemeld nie. In die Hemel-en-Aarde-vallei is ongeveer 10 ha se wingerd verbrand of geskroei en ’n verdere 2 000 ha van fynbos, veld, uitheemse bosse en vleie is deur die brand beskadig.

“Ons is dankbaar vir ons lede se vinnige reaksie, wat verhoed het dat die brand groter skade aanrig. Die gemeenskap was ruimhartig met skenkings van water, energiedrankies en oogdruppels aan ons lede en die brandweer. Ons is werklik dankbaar daarvoor,” sê Lourens Theron, voorsitter van die Alfa-buurtwag.
“Ons wil ook die omliggende strukture van onder meer Pearly Beach, De Kelders en Gansbaai – wat in tye van nood kom help het – bedank,” sê Robbie Nelson, ’n lid van die Groter Gansbaai-buurtwag, wat by die Franskraal-brande betrokke was.

Enige persoon wat by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke wil raak, kan die woord “Veilig” SMS na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings