|

AfriForum-veiligheid monitor Korona-impak en het gebeurlikheidsplanne

 

AfriForum se veiligheidsafdeling monitor die impak en verspreiding van COVID-19 en is daagliks in kontak met die organisasie se 150 buurtwagstrukture op grondvlak.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê die burgerregte-organisasie is op verskeie vlakke besig om ’n bydrae midde-in die Koronavirus-krisis te lewer en pro-aktiewe planne word uitgerol om gemeenskappe by te staan.

AfriForum se veiligheidbeheersentrum word 24/7 beman. Internasionale nuus- en ander bronne word gemonitor om op hoogte te bly van die nuutste inligting en syfers wêreldwyd wat COVID-19 betref.

Volgens Cameron is die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se inligting en statistieke ’n dag agter en dit is ook moeilik om deurlopend inligting te gee oor wat die situasie in Suid-Afrika is omdat inligting deur verskillende regeringsbronne vrygestel word.

Wanneer al die inligting geverifieer is, maak AfriForum daagliks ’n situasie-rapport bekend. Dié inligting is belangrik sodat die algemene publiek deurentyd op hoogte gehou kan word en ook kennis dra van die tempo waarteen verspreiding en toetsing van mense plaasvind.

“Die situasie is baie ernstig en dit is noodsaaklik dat mense die regte inligting het om die regte besluite te kan neem. Deur AfriForum se strukture en kommunikasieplatforms bereik ons tot 600 000 mense,” sê Cameron.

AfriForum is ook in kontak met die land se rampbestuursentrum en die nasionale gesamentlike operasionele sentrum. Die organisasie het ook sy hulp aangebied daar waar die staat se strukture op grondvlak nie na behore funksioneer nie. Die staat het byvoorbeeld verskeie geboue geïdentifiseer waar pasiënte moontlik in isolasie gehou kan word. Van die geboue moet egter aan bepaalde vereistes voldoen en AfriForum het ook hulp in die verband aangebied.

AfriForum se 911-beheersentrum word ook heeltyds beman en heelwat navrae is reeds ontvang rondom die Koronavirus en oor waar mense hulle kan laat toets. Navrae oor regskwessies en die regte van werknemers word na Solidariteit se krisissentrum verwys.

André Zeelie, ’n operateur in die beheersentrum, sê die beheersentrum kan AfriForum-lede wat vir 911 geregistreer is onmiddellik help sodra hulle die paniekknoppie op hul selfone aktiveer. “Wanneer ons die noodoproep ontvang, verskyn al die lid se besonderhede op ons skerms. Afhangende van wat die noodsituasie is, kan ons dan die polisie, ambulans-, brandweer- en ander dienste kontak. Die beheersentrum kan ook help om vermiste persone op te spoor.”

Cameron sê nog ’n been van veiligheid is deurlopende in kontak met die 150 buurtwagte deur byvoorbeeld radiobeheer. Die buurtwagte is op paraatheidsgrondslag en ook deeglik ingelig oor wat hul te doen staan sou daar byvoorbeeld onrus in ’n gebied uitbreek. Daar is ook ’n rampbestuursplan rondom COVID-19 en die proses is reeds aan die gang om te kyk hoe buurtwagte met items soos handskoene, maskers en handreinigers toegerus kan word. Inligting is ook aan buurtwagte deurgegee oor hoe hulle hul spesifieke gemeenskappe tydens die huidige krisis kan bystaan wanneer daar byvoorbeeld watertekorte sou ontstaan. Buurtwagte kan ook leiding neem met die voorsiening van kos en ander hulpmiddels aan bejaardes en kinders. Buurtwagte moet ook deurentyd verseker dat hulle in uiters higiëniese toestande optree.

’n Lys met inligting oor dokters en hospitale in die onderskeie dorpe is ook aan buurtwagte en takke deurgegee.

Die Boksburg-buurtwag het byvoorbeeld die leiding geneem en aangebied om bejaardes se rekeninge vir hulle te gaan betaal terwyl hulle in selfisolasie is.

Soortgelyke plasings