AfriForum vat hande met gemeenskap om parke skoon te maak


AfriForum se Vanderbijlpark-tak het die afgelope naweek in samewerking met gemeenskapslede en Groen Groener-tuindienste nóg ’n park se voorkoms opgekikker.

Die aktiewe span van die Vanderbijlpark-tak en talle besorgde inwoners het op 20 April 2019 ’n veld in die C.W.1-gebied naby Euclidstraat getakel en skoongemaak. Sakgrouers skeur gereeld vullissakke daar oop, terwyl gewetenlose dorpsbewoners tuinvullis en bourommel daar stort. Dit is uiteraard ’n gesondheidsrisiko.

“Die opkoms was uitstekend. Dit is goed om te sien hoe mense saamstaan. Ons kan nie toekyk hoe ons dorp agteruitgaan weens gebrekkige dienslewering nie. Dankie aan elkeen vir jul harde werk,” sê Ruan Oosthuizen, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Vanderbijlpark-tak.

Bogenoemde was die Vanderbijlpark-tak se 13de skoonmaakaksie vir die jaar.
Diegene wat by hierdie AfriForum-tak wil aansluit, kan ’n e-pos stuur na afriforumvdb@gmail.com of ’n SMS na 072 908 1345.
Sluit vandag nog by AfriForum se Vanderbijlpark-tak aan: SMS “Vdbp” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings