--> -->
Spyskaart +

AfriForum tree toe tot Bokfontein informele nedersetting se stryd vir huise

Junie 27, 2013 deur Esmarie Prinsloo

AfriForum sou vandag ʼn vergadering met die direkteur van menslike nedersettings van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit in Brits gehad het oor die inwoners van die Bokfontein informele nedersetting wat steeds nie die huise gekry het wat aan hulle belowe is nie. Die vergadering moet egter afgelas word omdat die direkteur nie opgedaag het nie.

Bokfontein se inwoners is in 2006 van Hartbeespoort af verskuif met die belofte dat hulle huise sou ontvang. Die burgemeester, Poppy Mogongwa, het in Oktober 2012 529 huise belowe en op 16 Oktober 2012 het die gemeenskap ʼn kennisgewing van Madibeng se direkteur van menslike nedersettings, James Molefe, ontvang waarin hulle belowe is dat die behuisingprojek binne 3 maande sou begin.

“Dit is nou al Junie 2013 en ons mense het steeds niks nie. Ons wil hê AfriForum moet ons bystaan sodat ons ten minste ʼn plan kan kry vir wanneer ons dakke oor ons koppe gaan hê,” het Abel Mashilo van Bokfontein se gemeenskap gesê.

Ian Cameron, organiseerder vir AfriForum in die Noordwes, het gesê dat die burgerregte-organisasie tot die onderhandelinge toegetree het om seker te maak dat alle inwoners van die gebied se regte beskerm word.

“Madibeng sien nie die mense se nood raak nie en het nou nog nie eers Bokfontein as dorp geproklameer of basiese dienste aangebring nie. Dit beteken dat daar nie met bouwerk begin mag word nie. Intussen word almal in die munisipale gebied geraak deur die haglike toestande in die nedersetting.”

Sluit by AfriForum aan deur jou dorp se naam te SMS na 31336. SMS’e kos 50c.