|

AfriForum Trauma-ondersteuningseenheid help kwadrupleeg se Kalahari-droom bewaarheid

Ons moet almal ophou sê eendag sal ek. Niemand weet waar hulle môre of oormôre gaan wees nie. Ons moet leer om elke geleentheid wat oor ons pad kom, aan te gryp.

Só meen Christo Pieterse, ’n safari-agent wat onlangs gehelp het om ’n kwadruplegiese vriend se grootste wens te bewaarheid. Pieterse, eienaar van Touch the Wild, wat safari-toere in Zambië, Zimbabwe, Namibië, Botswana en Malawi organiseer, het onlangs met die hulp van organisasies soos AfriForum vir Francois Calitz (32) van Randfontein op ’n welverdiende avontuur deur die Kalahari geneem.

Francois se hele wêreld het 13 jaar gelede in ’n oogwink verander toe hy tydens ’n rooftog buite ’n bank in Randfontein in die rug geskiet is. Hy is weens sy beserings gedwing om die res van sy lewe in ’n elektries-aangedrewe rolstoel, wat hy met sy mond beheer, te spandeer. Daaglikse take wat eens sonder moeite aangepak is, het nuwe vaardighede geword om te aan te leer. Hy het ook heeltemal afhanklik van sy ouers geword om vir hom te sorg.

Pieterse vertel dat Francois sedert hul eerste ontmoeting by ’n gemeenskapsbraai sewe jaar gelede vir hom gesê het dat hy daarvan droom om saam op een van sy “avonture” te gaan.

“Francois het ongelukkig deur die jare verskeie gesondheidsterugslae gehad en was maar huiwerig om op so groot reis te gaan. Aan die einde van 2018 het hy uiteindelik vir my gesê dat hy reg is en ek het net besluit ons moet alles doen om dit vir hom moontlik te maak,” sê Pieterse.

Om só soort safari aan te pak, en dit boonop met ’n kwadrupleeg, is nie ’n maklike of goedkoop uitstappie nie. Benewens die basiese uitgawes, moes daar ook begroot word vir ’n spesiale rolstoeltoeganklike-voertuig en woonwa, asook ’n versorger. Danksy donasies van verskeie instellings, insluitend AfriForum, is Francois se droom bewaarheid en het hulle in Junie vanjaar ’n week se avontuur in die natuur gehad.

“Ek dink dis baie braaf vir iemand soos Francois om uit sy gemaksone te kom en te kamp sonder enige geriewe. Hy was heeltyd positief en het nie toegelaat dat sy terugslae hom terughou nie,” vertel Pieterse.

Die groep het in totaal 2 600 km tydens die toer afgelê en deur Botswana en terug gereis. “Dit was ongelooflik om so in die natuur te kamp en so groot verskeidenheid van diere te sien en hoor as jy in die aande in jou tent lê. Vir my was die hoogtepunt toe ons op ons laaste aand leeus naby ons tent gehoor het,” vertel Francois.

Sy advies aan mense wat in soortgelyke posisies is, is om nie huiwerig te wees om nuwe ervarings aan te pak nie. “Mens moet kanse vat, want jy weet nie wanneer goeie geleenthede oor jou pad sal kom nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir almal wat hierdie avontuur vir my moontlik gemaak het. Ek wil nou graag meer reis,” sê Francois.

“Hoewel Francois se voorval iets van die verlede is, is die traumatiese gevolge daarvan iets waarmee hy elke dag moet saamleef. AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid probeer om elkeen wat ons nader op een of ander manier te ondersteun en in Francois se geval is ons baie bly dat ons ’n klein bydrae kon lewer om sy droom te bewaarheid,” sê Izel Kruger, kantoor -en projekkoördineerder by AfriForum Trauma-ondersteuningseenheid.

Soortgelyke plasings