|

AfriForum toets die land se water en maak hul bevindinge bekend

Deur Marelie Greeff

AfriForum het vandag die verslag en resultate van sy blou- en groendruppelprojek vir 2017 bekend gemaak. Dié projek is gedurende Mei en Junie vanjaar onderneem waartydens die gehalte van die drinkwater (blou) en rioolwater (groen) van 156 dorpe in Suid-Afrika getoets is.

Vir hierdie toetsing is die gemeenskappe in die onderskeie dorpe betrek en is opleiding en die nodige toerusting deur AfriForum verskaf.

“Gemeenskappe moet daarop aandring om toegang tot skoon, lopende water te hê en moet hul munisipaliteite verantwoordelik hiervoor hou deur die gehalte van drink- en rioolwater gereeld te toets,” het Marcus Pawson, AfriForum se hoof van Omgewingsake aan Forum Nuus gesê.

Bloudruppel – drinkwatergehalte

Die gehalte van drinkwater is in die meeste munisipaliteite regoor Suid-Afrika getoets en die burgerregtewaghond het bevind dat drie dorpe (Ellisras, Heilbron en Villiers) se drinkwater nie aan die nasionale standaarde voldoen nie. “Die 2014-resultate het getoon dat die drinkwater van 11 dorpe in die land nie aan die standaarde voldoen het nie, terwyl hierdie getal in 2015 na vyf dorpe verminder het, maar in 2016 weer gestyg het na sewe dorpe uit die 132 wat getoets is,” het Pawson rapporteer.

AfriForum het van nuwe watersuiweringstegnologie gebruik gemaak om dié dorpe se water te suiwer nadat die betrokke munisipaliteite nie ag geslaan het op die probleme wat met hul drinkwater ondervind word nie.

Die dorpe Villiers en Qalabotjha, wat binne die jurisdiksie van die Mafube Plaaslike Munisipaliteit sorteer, gaan gebuk onder swak waterdienste. Die munisipaliteit hier het in geheel verbrokkel en lewer min tot geen dienste nie en dít het die gemeenskap genoop om self die watersuiweringswerke oor te neem en om onafhanklik van die staat, skoon drinkwater aan dié dorpe te verskaf.

Groendruppel – rioolwatergehalte

Suid-Afrika se waterbronne is sedert 2013 onder uiterse druk ná droogtes wat in groot dele van die land voorgekom het en steeds dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap affekteer.

“Gemeenskappe is geregtig daarop om aan te dring op toegang tot skoon, lopende water, maar nietemin toon die groendruppelwatertoetse wat AfriForum gedoen het, kommerwekkende resultate, veral wat betref swak rioolbestuur, en dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur en ’n tekort aan bekwame personeel om waterinstellings te bestuur.

“Die Departement Water en Sanitasie (DWS) asook die plaaslike munisipaliteite is verantwoordelik vir die rioolkrisis waarbinne die land homself bevind en dít ten spyte van ’n begroting van meer as R15 miljard vir die DWS,” meen Pawson.

Hy het ook verwys na die departement se vrugtelose en verkwissende aanstelling van 31 Kubaanse ingenieurs. “Hulle is reeds twee jaar in Suid-Afrika werksaam sonder dat die land se infrastruktuur enige verbetering toon. Dít terwyl Suid-Afrika oor sy eie kundiges beskik om die werk te kan verrig teen ʼn meer bekostigbare begroting.”

Pawson het verder daarop gewys dat die departement in die 2015/2016 finansiële jaar R827 miljoen aan die Departement van Finansies teruggegee omdat die geld nie bestee is nie. Dit bring die onbestede bedrag vir die afgelope paar jaar op meer as R2 miljard te staan; terwyl ʼn geskatte 4 200 megaliter rou riool daagliks in ons rivierstelsels beland.

“AfriForum het in Mei en Junie 2017 die rioolwaterstelsels van 88 dorpe getoets, waarvan 59 nie aan die gestelde gehaltestandaarde voldoen het nie, vergeleke met 26 uit 72 rioolwaterstelsels wat in 2016 nie aan die standaarde voldoen het nie. Dit is duidelik dat die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke (RAWBW) in Suid-Afrika drasties aan die verswak is,” het Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder van Omgewingsake, gesê.

“Ons het vanjaar daarin geslaag om verskeie munisipaliteite se afvalwater te toets nadat die organisasie in die verlede deur sommige munisipaliteite toegang tot sekere rioolwaterstelsels geweier is. Dít maak sin as die bedenklike stand van afvalwaterbestuur in die land in ag geneem word – ’n gemiddeld van 67% van Suid-Afrikaanse rioolwaterstelsels funksioneer nie binne die regulatoriese vereistes nie. ’n Algehele afname in rioolwaterbestuur is vanjaar regoor Suid-Afrika waargeneem.

“Die 59 afvalwaterbehandelingsaanlegte wat nie aan die standaarde voldoen nie, kan ’n bedreiging vir menslike gesondheid, voedselsekerheid en die omgewing inhou. Die standaard van rioolwaterstelsels behoort in 2017 as ’n prioriteit beskou te word, gegewe die droogtetoestande in Suid-Afrika en die feit dat die land ʼn waterskaars land is,” verduidelik Boshoff.

Suid-Afrika se nasionale watergehaltestandaarde maak voorsiening vir 1 000 eenhede E. coli per 100 ml water in behandelde rioolwater in algemene afvalwaterlimiete.

Rubicon Micro

Die nuwe tegnologie wat AfriForum tydens die blou- en groendruppelverslagvrystelling bekend gestel het, staan bekend as Rubicon Micro. Dit is ’n waterontsmettingsmiddel wat deur navorsing bewys is as ’n plaasvervanger vir chloor en ander konvensionele chemikalieë om besoedelde water tot drinkwatergehalte te herstel.

Pieter du Toit, hoof uitvoerende beampte van Prideco Holdings en die verskaffer van die Rubicon-produk, verduidelik dat die produk uit ’n verskeidenheid van persulfaatsoute, aminosure van voedselgehalte, mononatriumglutamaat asook ’n koagulaat-/flokkulaatmengsel bestaan wat geheel en al veilig is vir menslike gebruik. “Wetenskaplike toetse deur die gesaghebbendste navorsinginstellings ter wêreld bevestig die doeltreffendheid van die Rubicon-produk in die uitwissing van bakterieë, virusse, swamme en die mees algemene patogene wat veral ingewandskoors, cholera en E.coli-verwante siektes veroorsaak,” het Du Toit verduidelik.

Volgens Du Toit is Rubicon Micro deur die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid vir menslike gebruik goedgekeur met erkenning deur die WNNR, die Tshwane Universiteit van Tegnologie en verskeie buitelandse navorsingsinstansies. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se goedkeuring van die produk word ook binnekort verwag.

Du Toit noem dat Rubicon Micro se langdurige ontsmettingseienskappe verseker dat daar ná die toediening daarvan ’n aanhoudende suiwering plaasvind sonder om enige smaak of reuk na te laat.

AfriForum se aksieplan

AfriForum is in die proses om briewe aan die bogemelde munisipaliteite uit te reik om hulle in kennis te stel dat daar nie aan die gestelde vereistes voldoen word nie. Die burgerregte-organisasie onderneem verder om homself regoor Suid-Afrika te posisioneer en jaarlikse evaluasies soos hierdie te behartig om sodoende die infrastruktuur deurlopend te monitor. Indien munisipaliteite versuim om die kwessies op te los, sal regstappe geneem word en die moontlikheid bestaan dat ’n strafregtelike klag teen die administratiewe amptenaar aanhangig gemaak kan word of dat privaat vervolging kan plaasvind.

In die proses om nakoming te verseker, onderneem AfriForum verder om ’n omvattende prestasierekord of papierspoor by te hou om sodoende rekord van dorpe se watergehalte te hou.

AfriForum is voorts verplig om sy lede by te staan deur die vrystel van korttermynwatersuiweringsprodukte, soos Rubicon Micro.

Die 2017 blou- en groendruppelverslag word ook aan die Groen Skerpioene oorhandig vir verdere ondersoek van die rioolaanlegte wat nie aan die vereistes voldoen nie en die verslag word aan Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, oorhandig om strategieë te bespreek wat die probleme wat bestaan sal aanspreek

“AfriForum wil graag glo dat munisipaliteite sal saamwerk om ’n veilige en gesonde omgewing vir almal in Suid-Afrika te verseker,” het Pawson afgesluit.

Soortgelyke plasings