AfriForum-teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Laerskool Menlopark


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 8 April 2019 besoek by die Laerskool Menlopark in Pretoria afgelê. Dié veldtog skep bewustheid oor afknouery in skole. AfriForum wil met sy teenboelieveldtog saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole hok te slaan en die betrokke partye met die kennis toerus om dit reg te kry.

“Tydens ons besoek verduidelik ons graag vir die leerders wat die verskil tussen afknouery en konflik is, omdat hulle hierdie twee konsepte dikwels met mekaar verwar. Dit is ook belangrik dat leerders weet dat afknouery herhalend en doelbewus plaasvind. Ons wil kinders aanmoedig om ander te behandel soos hulle graag behandel wil word, om hulle eie identiteit te koester en om sodoende ook wedersydse respek teenoor ander se identiteit te toon,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“By die Laerskool Menlopark is dit belangrik om vir ons leerders ’n veilige, stimulerende leeromgewing te skep waar Christelike norme en waardes in ag geneem word – daarom is boeliebewusmaking vir ons van groot waarde. Ons sê dankie aan AfriForum wat ons kinders kom bemagtig om ’n verskil in hulle eie omgewing te maak,” sê Andrionette Bester, onderwyser by die Laerskool Menlopark.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
Klik hier vir die bewusmakingsvideo.
Klik hier vir die teenboeliegids.

Soortgelyke plasings