AfriForum-teenboelieveldtog en Matteus besoek Laerskool Vissershoek


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 17 Mei 2019 by die Laerskool Vissershoek in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier in situasies op te tree en afknouery te ontmoedig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

Elke onderwyser het ook ’n teenboeliegids ontvang, wat raad bied aan onderwysers, ouers en leerders wat met afknouery gekonfronteer word. Die gids bevat ook aktiwiteite wat met die leerders behandel kan word, as deel van die bewusmaking van boeliegedrag.

“As skoolhoof staan ek elke oggend vroeg op, sorg dat ek die skool self oopsluit en indien moontlik, sluit ek hom toe ook. Baie mense wou al weet hoekom ek dit doen en ek het net een antwoord: Ek wil elke dag graag eerste met ons jeug in aanraking kom en hul eerste voorbeeld wees. Dit is my mening (filosofie, credo) dat ons as rolmodelle ’n positiewe impak moet hê op almal waarmee ons in aanraking kom. By Laerskool Vissershoek is ons ook ’n waardegedrewe skool en ons leef en werk aan die hand van die volgende vyf waardes: respek, regverdigheid, betroubaarheid, verantwoordelikheid en burgerskap. Dit is dus ook vir ons belangrik om bewusmaking rondom afknouery aan te moedig sodat ons kinders moet weet om mekaar volgens hierdie vyf waardes te behandel,” sê Freek Hennop, hoof van Laerskool Vissershoek.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings