AfriForum-teenboelieveldtog en Matteus besoek Laerskool Rapportryer


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 8 Februarie 2019 by die Laerskool Rapportryer in Randfontein besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier op te tree en afknouery te ontmoedig. Elke onderwyser ontvang ook ’n teenboeliegids – met raad en aktiwiteite oor bewusmaking van afknouery – wat met die leerders behandel kan word,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Afknouery het ’n groot probleem in skole geword en bestaan uit soveel vorme, wat soms ongesiens of -gehoord verbygaan. Daarom is boeliebewusmaking só belangrik – dit gee leerders die nodige vaardighede om boelies te hanteer en maak hulle ook bewus daarvan dat hulp vir slagoffers van afknouery beskikbaar is. Verder help dit om empatie by die leerders te kweek en om mekaar met respek te behandel, ongeag van omstandighede of tekortkominge. Almal van ons het al iewers deur die lewe seergekry en ons weet nie noodwendig hoe om die pyn daarvan te verwerk nie. Wanneer ons liefde teenoor ons naaste bewys, sonder om ander se emosies te ontgeld, maak ons ’n positiewe bydrae tot mekaar se lewens,” sê Linmari van der Westhuizen, pastorale terapeut by Laerskool Rapportryer.

Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings