|

AfriForum-teenboelieveldtog en Matteus besoek Laerskool Kenmare

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 14 Februarie 2020 by die Laerskool Kenmare in Krugersdorp besoek afgelê as deel van die skool se teenboelieweek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Laerskool Kenmare se teenboelieweek was voorwaar ’n reusesukses en dit is altyd lekker om te sien dat ’n skool soveel moeite met hul leerders doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskap.

Laerskool Kenmare het die week van liefde gekies om bewusmaking van boeliegedrag te skep. Volgens Willine Joubert, departementshoof van opvoedkundige leiding by die skool, is dit vir die personeel belangrik om ’n omgewing vir leerders te skep waarin hulle veilig kan voel, sodat elke leerder die geleentheid kry om sy/haar volle potensiaal te bereik. “AfriForum illustreer op ’n praktiese en prettige wyse aan die leerders hoe ondeurdagte dade ander maats onnodiglik kan seermaak. Ons leerders en hul welstand is vir ons belangrik – daarom ondersteun ons graag die program om leerders te leer hoe om nie ’n boelie te wees nie, maar eerder ’n maat vir ander,” sê Joubert.

Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

 

Soortgelyke plasings