|

AfriForum-teenboelieveldtog en Matteus besoek laerskole in Port Elizabeth

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 9 en 10 Maart 2020 by Laerskool Verkenner, Bethelsdorp Primêr, Laerskool Tjaart van der Walt en Laerskool Piet Retief in Port Elizabeth besoek afgelê, as deel van dié organisasie se Veg-en-Bou-veldtog. Die teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier in moeilike situasies op te tree en afknouery te ontmoedig. Ons verduidelik aan die leerders wat afknouery regtig is en dat daar ’n verskil tussen konflik en boeliegedrag is,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugontwikkeling.

“Ons is baie dankbaar vir AfriForum wat ons leerders oor boeliegedrag kom toespreek het. Die kinders het die gelukbringer, Matteus, ook vreeslik geniet. Die aanbieding was briljant en hulle kon beslis al 600 leerders se aandag behou. Ons is seker ons leerders is nou bemagtig om ons skool boelievry te maak,” sê Eugene du Toit, skoolhoof van Laerskool Tjaart van der Walt.

 

“Leandie en haar span doen uitstekende werk om die boelieprobleem in ons skole op ’n praktiese manier aan te pak. Dit word uitstekend ontvang by elke skool wat hulle in ons streek bedien,” meen Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

 

“Dit is goed dat die boodskap van ’n ander oord as die onderwysers en ouers gehoor word. Dit moet ook só oorgedra word dat elke ontvanger van die boodskap verstaan dat afknouery verkeerd is en dat ons teen boeliegedrag moet optree. AfriForum se teenboelieveldtogspan slaag beslis hierin. Ons almal het ’n diepliggende behoefte om ’n goeie persoon wees, maar word soms negatief beïnvloed. Ek glo AfriForum se aanbieding en program praat met alle gehore en fokus op positiewe kommunikasie,” sê Dirk Burger, AfriForum se takvoorsitter vir Port Elizabeth.

Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings