--> -->
Spyskaart +

AfriForum-teenboelieveldtog en die gelukbringer Matteus besoek Laerskool Helderkruin

Augustus 31, 2018 deur Marelie Greeff

Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het die afgelope week besoek afgelê by Laerskool Helderkruin in Roodepoort as deel van hulle boeliebewusmakingsweek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en die betrokke partye met die kennis toe te rus om dit te kan doen. Ons gee ook aan elke onderwyser ’n Teenboeliegids wat raad aan hulle bied oor hoe om boelies te hanteer, asook ’n paar aktiwiteite wat hulle met die kinders kan doen wat dien as bewusmaking. Matteus, ons groter as lewensgrootte boelieveldtog-gelukbringer, is ook tydens hierdie besoek vir die heel eerste keer by Laerskool Helderkruin bekend gestel,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

“Die missie-slagspreuk van Laerskool Helderkruin is die volle potensiaalontwikkeling van elke leerder. Die boeliebewusmakingsweek streef daarna om elke leerder se volle potensiaal te onwikkel om hulself te kan beskerm teen boelies – boelies in vlees en boelies in die kuberruimte. Personeel, ouers, leerders en die gemeenskap vat hande en staan saam met die Here as ons fondament om die verskil te wees wat ons wil sien,” sê Elaine Steyn, onderwyseres en voog van die boelieraad van Laerskool Helderkruin.

“Ek glo dit is uiters noodsaaklik om deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning in jongmense te belê. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook dié van môre. Dit bly ’n voorreg om saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat om afknouery in skole hok te slaan,” sê Pieter van Zyl van School of Life – hy was ʼn spreker tydens AfriForum se boeliebewusmakingsbesoek by Laerskool Helderkruin.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as die skool waarin jou kind/ers is by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.