|

AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Roodekrans

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 10 en 11 Februarie 2020 by die Laerskool Roodekrans in Roodepoort besoek afgelê tydens dié skool se teenboelieweek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in. Die teenboeliespan het tydens die eerste dag ’n aanbieding gedoen oor verbale afknouery. Die dieetkundige Natasha Smit het die leerders op die tweede dag toegespreek oor die feit dat jy nie mense moet boelie bloot omdat hulle anders is of lyk as jy nie, en dat ’n mens ook nie werklik weet wat in iemand se hart aangaan nie.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Laerskool Roodekrans se teenboelieweek was’n reusesukses en dit is altyd lekker om te sien dat ’n skool soveel moeite met hul leerders doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskap.

“Roodies is ’n waardegedrewe skool wat daarna streef om afknouery heeltemal uit te wis. Dit is ook vir ons belangrik dat ons leerders die verskil tussen afknouery en gesonde konflikhantering moet ken en verstaan. Ons beplan om elke kwartaal sprekers te kry om in samewerking met AfriForum bewustheid oor afknouery onder ons leerders en onderwysers te skep,” sê Deon Rousseau, hoof van Laerskool Roodekrans.

“Boeliebewusmaking in skole is baie belangrik omdat afknouery en selfhaat al van kleins af begin en die invloed daarvan somtyds deur elke lewensiklus tot en met volwassenheid saamgedra word. Dit is belangrik dat kinders bewus moet wees dat elkeen anders lyk en uniek gemaak is. Ek wil hulle graag leer om lief te wees vir hul eie lyf, maar terselfdetyd hul liggaam te voed met gesonde, voedingsryke kosse. Dit waarmee jy jou liggaam voed, gaan jou energievlakke beïnvloed, asook hoe jy oor jouself en ander voel,” meen Smit.

“Boeliebewusmaking is belangrik omdat ’n kind van kleins af leer om vir hulself op te staan en ook om selfvertroue te kweek. Deur dié vaardighede van kleins af aan te leer, sal kinders beslis ’n voorsprong hê om te kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is wanneer hulle eendag die grootmenslewe betree,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekassistent vir onderwys en jeugleierskap.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za of nicolene.muller@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings