AfriForum-teenboelieveldtog besoek La Montagne Primary School


Die burgerregtewaghond AfriForum het op 14 Mei 2018 besoek aan La Montagne Primary School in Pretoria afgelê as deel van dié organisasie se teenboelieveldtog. Hierdie veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon word ’n ambassadeur vir hulle skool om juis as leier op te tree in ’n situasie waar afknouery plaasvind,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Die feit dat die leerders van die wapenrusting wat hulle elke dag moet aantrek, kon leer, het beslis ’n waardevolle en volhoubare impak gemaak. Indien hulle elke oggend voor skool hul wapenrusting aantrek, sal hulle konstant daaraan herinner word om nie soos boelies op te tree nie. Dit sal leerders elke dag motiveer om ander met respek te behandel – by die skool, by die huis en ook in die breër samelewing,” verduidelik Anita Pillay, hoof van La Montagne Primary School.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings