|

AfriForum-teenboeliespan en Matteus besoek Laerskool Delmas

Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 26 Augustus 2019 besoek by die Laerskool Delmas afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Ons wil seker maak dat kinders toegerus is met die regte gereedskap om boeliegedrag stop te sit. Ons leer ook vir die leerders die verskil tussen afknouery en konflik omdat daar ’n groot wanpersepsie is. Leierskapsontwikkeling is vir ons baie belangrik en daarom wil ons leerders bemagtig om op te staan vir wat reg is deur ander met respek te behandel. Hier by AfriForum wil ons hê skole moet vry, veilig en voorspoedig wees sodat ons land se kinders kan floreer daar waar hulle kan leer en bou aan hul toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap.

“Ek is baie dankbaar vir hierdie inisiatief van AfriForum wat na ons plattelandse skool uitgereik het om met die leerders oor afknouery – een van die grootste knelpunte in die hedendaagse onderwys – te kom gesels. AfriForum se aanbieding was baie prakties en ook maklik vir die leerders om te verstaan. Boelies het geen ouderdom nie. Die verskillende vorme van afknouery vind by die meeste skole plaas. Ons skool probeer om afknouery tot die beste van ons vermoë hok te slaan. Ons het byvoorbeeld ’n boelieboks waar kinders anoniem kan aanmeld indien hulle geboelie word waarna die beheerliggaam dit dan hanteer. Hierdie bewusmakingsveldtog van AfriForum is baie belangrik aangesien kinders nie altyd weet wanneer hulle geboelie word en wanneer hulle aan die kortste ent trek nie,” sê Johan de Beer, hoof van die Laerskool Delmas.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

 

Soortgelyke plasings