|

AfriForum-takvoorsitter beseer tydens ondersoek na gebarste waterpyp

’n Voorsitter van een van AfriForum se plaaslike takke is beseer nadat sy verlede week kniediep in ’n gat geval het toe ’n stuk teerpad onder haar meegegee het.

Isolde Laesecke, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, sê die voorval het gebeur toe sy ondersoek gaan instel het nadat ’n inwoner van die dorp haar in kennis gestel het dat een van die hooftoevoer-waterpype in die dorp gebars het.

“Ek is self na die plek in Union-straat om te gaan kyk wat aangaan voordat ek ’n klag by die munisipaliteit wou indien. Toe ek naby die area kom waar die water uitgestroom het, het die teerpad skielik onder my weggesak.”

’n Man wat by ’n kantoor in dié straat werk, het Laesecke uit die pad gehelp. Sy het skraapwonde opgedoen en haar regterbeen beseer.

Laesecke het die Dihlabeng Munisipaliteit oor die pyp ingelig waarna hulle die watertoevoer afgesny het en dele van die pyp herstel het. “Dit is onaanvaarbaar dat ons pype in so ’n toestand is en ons paaie soos ’n laslappieskombers lyk. Wat as ’n kind op ’n fiets of self ’n motor op die pad ingesak het? Die skade kon soveel erger gewees het.”

Volgens Laesecke was dit die vierde keer verlede week wat ’n hooftoevoerpyp in die dorp gebars het. “Die pype is so verouderd dat hulle vrot. Die munisipaliteit tree nie voorkomend op nie en doen nie deeglike herstelwerk nie. Hulle het met tye nie eens die regte toerusting vir herstelwerk nie. Dít is hoe sleg dit hier gaan,” meen sy.

Volgens haar is daar ’n hospitaal, drie ouetehuise en ’n kinderhuis op die dorp en die gemeenskap móét weet wanneer die watertoevoer afgesny word.

Volgens Laesecke het AfriForum al verskeie klagtes oor die dorp se infrastruktuur by die munisipaliteit en polisie ingedien, maar dit val op dowe ore. Die Dihlabeng Munisipaliteit word ook tans deur die Valke ondersoek na bewerings van wanadministrasie, bedrog en korrupsie.

Lede van die Valke se Vrystaatse ondersoekeenheid na ernstige korrupsie het in September drie dae by die Dihlabeng- en Maluti-a-Phofung Munisipaliteite  (Kestell, Harrismith en Qwaqwa) deurgebring as deel van ’n ondersoek na R56 miljoen se korrupsie.

Die beamptes het die munisipaliteite besoek as deel van ’n deursoek-en-beslagleggingsoperasie by die munisipale kantore. Tot dusver is niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Soortgelyke plasings