AfriForum-takke in Tswaing eis verduideliking oor geldvermorsing


Die AfriForum-takke in Delareyville, Ottosdal en Sannieshof het ’n verduideliking van sowel die burgemeester as die munisipale bestuurder van die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit geëis oor die vermorsing van bykans R500 000. Hierdie enorme bedrag is aan ’n strategiese beplanningsessie bestee.
Volgens Kagiso Mangwejane, DA-koukusleier in Tswaing, is hierdie sessie by ’n luukse lodge in die Wieg van die Mensdom gehou en is dié bedrag aan ’n motiveringspreker, fasiliteerder en akkommodasie bestee. Die DA het ook reeds ’n interne ondersoek na hierdie aangeleentheid gelas.

“Dit is vir AfriForum-lede en die hele gemeenskap onaanvaarbaar dat geld só verkwis word terwyl die dorpe ten gronde gaan. Die AfriForum-takke in die onderskeie dorpe is konstant in gesprek met die munisipaliteit oor probleme rakende water, elektrisiteit, rioolwerke en vullisterreine. Daar word geen onderhoud gedoen nie en die infrastrukture wat daar is, is besig om ten gronde te gaan. Die munisipaliteit se verskoning is altyd dat daar nie geld beskikbaar is nie, tog kan hulle die koste van só ’n funksie regverdig,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Die skrywe is ook aan die LUR vir finansies in Noordwes gestuur, sodat sy die saak kan ondersoek. Die munisipaliteit het tot 23 Februarie om op AfriForum se skrywe te antwoord.
SMS “Delareyville” na 45351 om by AfriForum aan te sluit (R1).

Soortgelyke plasings