|

AfriForum-takke regoor die land verhoog lewenskwaliteit in dorpe deur selfdoenprojekte

AfriForum se takke regoor die land het sedert die begin van die jaar skouer aan die wiel gesit en ingespring om dorpe skoner en meer leefbaar te maak.

Naboomspruit: Nabome (Euphorbia ingens) is by die dorp se vier ingange geplant en plantpotte netjies oorgeverf. Die tak het ook slaggate in die dorp gevul om die paaie te beveilig en ’n kontrakteur is aangestel om verstopte dreine in die strate weer oop te maak. Voorts is ’n nuwe oorladingskoppelaar aangekoop om ’n waterpomp by die suiweringsaanleg te herstel en ’n boorgatpomp is ook deur die tak reggemaak.

Piet Retief: Die tak het na herhaalde klagtes deur inwoners ingegryp om ’n kroeg wat deur verskeie eienaars besit word te sluit. Klagtes wat wissel van rusverstoring, alkoholmisbruik op straat, geraasbesoedeling en motors wat inwoners se grasperke verniel, is by die Amsterdam-polisiestasie gelê. Niks het egter hiervan gekom nie. Taklede het toe genoeg bewyse ingesamel om ’n klag by die drankraad in te dien wat tot die sluiting van die kroeg gelei het.

Vaalharts: Die tak het begin met die restourasie van die Memorable Order of Tin Hats Caprara Shellhole-monument. Dié monument – ’n Bofors 40 mm-lugafweerkanon – is deur Old Bill W.H. White en lede van die Caprara Shellhole aan die munisipaliteit van Hartswater geskenk ter nagedagtenis van en erkenning aan alle oudweermagmanne en -vroue van die omgewing. Die restourasie is begin nadat die monument onder vandalisme en swak instandhouding deurgeloop het.

Kuruman: Die jeugvleuel van AfriForum se Kuruman-tak het die kragtoevoer na vier sektore in die dorp herstel nadat dié sektore vir nege dae sonder elektrisiteit moes klaarkom. Sowel arbeid as toerusting is gratis beskikbaar gestel om die projek te voltooi. Die plaaslike Assmang-myn (Blackrock) het ook kabels ter waarde van R500 000 aan die projek geskenk.

Taklede het ook gehelp om ’n hond uit haglike omstandighede te red met die hulp van die SAPD en DBV. Dít volg nadat die gemeenskap verskeie klagtes teen die eienaar van die hond by die DBV ingedien het. Weens veiligheidsredes was die DBV angstig om die hond alleen van die perseel te verwyder en die hulp van die buurtwag is ingeroep.

Pretoria: AfriForum het ter viering van Wêreldvleilanddag in Februarie die vleiland in die Moreletaspruit-natuurreservaat skoongemaak. Swaar reënbuie vroeër het hope vullis in die stormwaterkanale afgespoel, wat deur die spruit tot in die vleiland gevoer is. Sowat tien sakke vullis is tydens die aksie opgetel.

Vanderbijlpark: ’n Skoonmaakprojek is in die dorp aangepak waartydens rommel op verskeie plekke verwyder, gras gesny en tuinvullis opgeruim is. ’n Speelparkie is ook tot sy eertydse glorie herstel.

Frankfort: Die begraafplaas se gras is gesny, grafte netjies gemaak en vullis verwyder. Verdere onderhoudswerk is ook in ’n gevorderde stadium.

Bethlehem: Die tak het die Anglo-Boereoorlog-begraafplaas in die dorp skoongemaak en lede van die gemeenskap het gehelp om gras te sny en bome te snoei om die algemene beeld van die begraafplaas te verbeter. Gifdoder is ook gespuit om die onkruid onder beheer te bring.

Reitz: ’n Padtekenprojek is aangepak om padveiligheid in die dorp te verbeter deur padtekens meer sigbaar te maak.

Westonaria: Die tak het ingegryp en ’n waterpyp in die dorp herstel. Weens ’n tekort aan materiaal en munisipale werkers wat onder die invloed van alkohol was, kon die plaaslike munisipaliteit nie die pype herstel nie. Die pype was verrot, vol gate en ’n ketelmaker se dienste moes ingeroep word om dit te seel.

Hermanus: AfriForum se Alfa- en Groter Gansbaai-buurtwagte, asook die Hemel-en-Aarde-plaaswag, het vroeër bystand aan rolspelers verleen tydens veldbrande in Hermanus en Franskraal. Die buurtwaglede het onder meer gehelp om eiendomme in gevaarsones te ontruim en brande te blus. AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture het saam met brandweerspanne van Overstrand en die omliggende dorpe onverpoos die vure beveg om seker te maak dat skade beperk word.

Senekal: Tak- en gemeenskapslede het hande gevat om vervalle padtekens op die dorp te verf. Die tak het besluit om in te gryp nadat die meerderheid van padtekens heeltemal onsigbaar geword en veroorsaak het dat motoriste die verkeersreëls verontagsaam. Die plaaslike munisipaliteit het die projek goedgekeur en tot op hede is 24 padtekens reeds opgeknap, danksy 12 vrywillige inwoners wat namens AfriForum gehelp verf het.

Soortgelyke plasings