AfriForum-takke oorhandig wenslys aan Govan Mbeki-munisipaliteit

 

Die AfriForum-takke van Secunda en Bethal het op 7 Februarie 2017 ’n wenslys gerig aan Mmela Mahlangu, die munisipale bestuurder van die Govan Mbeki-munisipaliteit.
Dit volg nadat dié twee takke verskeie gemeenskapsprobleme en -prioriteite geïdentifiseer het wat nog deur die munisipaliteit in hulle geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) aangespreek behoort te word.

“Tydens ons vergadering het mnr. Mahlangu kennis geneem van die probleme wat ons in die wenslys noem en onderneem om dit by die munisipaliteit se GOP te voeg en die nodige aksies te neem. Hy het egter benadruk dat die Eskom-situasie tans prioriteit geniet,” sê Frits Adendorf, die voorsitter vir plaaslikeregeringsake van AfriForum se Bethal-tak.

Mahlangu het gevolglik ook ooreengekom dat die munisipaliteit ’n aksieplan aan AfriForum sal voorsien om hul beplande hantering van die Eskom-situasie uiteen te sit. Hy het AfriForum ook genooi om insette te lewer.

“Daar is besluit dat AfriForum en die munisipaliteit maandeliks sal vergader om probleme en projekte wat uit die wenslys voortspruit vir die komende maand te bespreek en aan te pak,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Dit is goed om te weet dat die munisipaliteit wel met AfriForum wil saamwerk,” voeg Hennie Pretorius, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, by.

Soortgelyke plasings