| | |

AfriForum-takke help gemeenskappe tydens COVID-19-pandemie

AfriForum se takke in die Hoogland-distrik het die afgelope maand meer as 9 ton voedsel aan verskeie gesinne uitgedeel. Dié aksie is in samewerking met kerke en verskeie ander organisasies aangepak om gemeenskappe tydens die staat van inperking te ondersteun.

Groot nood het in gemeenskappe ontstaan nadat sommige mense nie tydens die inperking salarisse ontvang het nie of selfs hul werk verloor het omdat ondernemings hul deure moes sluit. ’n Taakspan wat uit AfriForum, Saai en Solidariteit Helpende Hand bestaan, is op die been gebring om die verspreiding van voedsel na gemeenskappe op ’n georganiseerde wyse te bestuur.

Die takke in die distrik – Bethlehem, Frankfort, Harrismith, Kroonstad, Odendaalsrus, Reitz, Senekal, Steynsrus en Welkom – het ook meer as 550 liter handreiniger en 200 gesigmaskers versprei om gemeenskappe teen COVID-19 te help beskerm.

“Dit is wonderlik om te sien dat gemeenskappe saamstaan en mekaar in dié moeilike tyd ondersteun. Baie van die kospakkies wat versprei word, is moontlik gemaak danksy skenkings wat ons van mense in die gemeenskap ontvang het. Dit sou nie moontlik gewees het om dié projek sonder die hulp van die gemeenskap van stapel te stuur nie,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

“Ons weet daar is nog baie mense wat hulp benodig en ons sal so ver moontlik almal probeer help. Ons hulpbronne is egter soms beperk, maar ons vertrou dat ons met hulp vanuit die gemeenskap soveel moontlik mense sal kan help,” voeg Nel by.

AfriForum het ook ’n noodfonds vir elke tak geskep wat gebruik word om dié projekte volhoubaar voort te sit. Lede van die publiek kan skenkings aan die noodfonds maak, wat gebruik word om noodsaaklike produkte vir die behoeftiges aan te koop. Mense wat skenkings wil maak, kan hul naaste tak vir meer inligting kontak of besoek die taknoodfonds-blad op AfriForum se webtuiste

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om ’n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak. SMS jou naam na 31481 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings