AfriForum-takke in Groot-Marico woeker tydens 2017


AfriForum se takke in die Groot-Marico-distrik het gedurende 2017 verskeie projekte aangepak en suksesvol afgehandel. Dié takke bestaan uit Hartbeespoort, Brits, Mooinooi, Rustenburg, Swartruggens, Lichtenburg, Coligny en Koster.
Bogenoemde AfriForum-takke het gedurende 2017 onder meer die volgende aangepak:

  • Ses vullisterreine is tydens AfriForum se jaarlikse vullisterreinouditprojek geoudit;
  • Meer as 235 000 inwoners se drink- en rioolwater is getoets tydens die burgerregte-organisasie se blou-en-groendruppelprojek;
  • Nagenoeg 300 bome is geplant tydens AfriForum se boomplantmaand;
  • Ses begraafplase is skoongemaak;
  • R130 000 is spandeer om slaggate te herstel;
  • AfriForum het ’n PAIA-aansoek aan die provinsiale regering van Noordwes gerig om inligting oor die oprigting van ’n standbeeld van pres. Jacob Zuma te bekom;
  • AfriForum het in Groot-Marico geprotesteer teen die oprigting van dié standbeeld;
  • AfriForum het vertoë aan Eskom gerig om te verhoed dat inwoners van Lichtenburg en Coligny se elektrisiteit afgesny word weens wanbetaling deur die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit; en
  • Plaasaanvalmemorandums is by verskeie polisiestasies ingedien.

AfriForum-strukture in dié gebied is ook gedurende 2017 versterk en vermeerder. Dít het die stigting van takke in Swartruggens en Rustenburg behels, asook ’n besoek deur adv. Gerrie Nel aan laasgemelde. Verdere suksesse behels die herorganisering van die Mooinooi-tak en die stigting van buurtwagte in Hartbeespoort, Rustenburg en Coligny.

“AfriForum bedank elke bestuurslid en inwoner wat sy tyd opgeoffer het om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Ons beplan selfs meer aksies vir aanstaande jaar om die gemeenskap te bevoordeel,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes.

Raak by jou naaste AfriForum-tak betrokke: SMS jou dorp se naam na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings