AfriForum takel enorme grondeis in residensiële gebied in Centurion


AfriForum het vandag by ’n mediakonferensie in Centurion aangekondig dat dié burgerregte-organisasie se regspan die Grondeis-kommissie skriftelik verwittig het van die organisasie se voorneme om ’n grondeis teen te staan wat op nagenoeg 4 000 ha residensiële grond in die Centurion-omgewing ingestel is.

“AfriForum besik reeds oor die nodige hulpbronne om onmiddellike aksie teen dié eis te neem. Ons wil ons lede en die betrokke gemeenskap verseker dat die aanval op hul eiendom nie ongesiens verbygaan nie. AfriForum het reeds ’n aksieplan gereed en is besig om die nodige stappe te neem om hierdie aanval op privaat eindomsreg teen te staan,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum gaan op 19 Februarie 2019 om 19:00 ’n gemeenskapsvergadering by Leriba Lodge hou om gemeenskapslede toe te spreek wat onroerende eiendom in Centurion besit. Tydens die vergadering gaan die organisasie gemeenskapslede van al die feite rondom die grondeis inlig, asook van die stappe wat nou gevolg sal word, wat die organisasie se plan van aksie is en wat reeds gedoen is.

“Dit is belangrik dat die gemeenskap van al die feite bewus is en dat hulle AfriForum van ’n skriftelike mandaat voorsien om AfriForum te bemagtig om namens hulle die stryd verder te voer,” sê Cameron.

Die publiek word aangemoedig om hul mandaat aan AfriForum te gee. RSVP vir dié gemeenskapsvergadering by www.grondeis.co.za.

Soortgelyke plasings