AfriForum-tak in Vryburg herstel slaggate in samewerking met Naledi-munisipaliteit


Aangesien die slaggate in Vryburg ’n groot gevaar vir motoriste inhou, het die plaaslike AfriForum-tak besluit om 20 dromme teer aan te koop om slaggate te help herstel. North West Crushers het goedgunstiglik die klip voorsien, terwyl die Naledi Plaaslike Munisipaliteit die toerusting en werkers voorsien het.
Danksy hierdie spanpoging is talle slaggate herstel tot voordeel van alle inwoners van Vryburg. De Wahlrylaan, Springbokweg en Minnaarstraat, strate wat voorheen byna onbegaanbaar was, is onder meer herstel. Die feit dat talle slaggate in hierdie strate reeds baie diep was het ongelukkig meegebring dat minder slaggate herstel kon word as wat aanvanklik beplan is. Die strate wat egter wel herstel is dra swaar verkeer en bring daarom tot ’n mate verligting vir padgebruikers.

Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland, meen dat die munisipaliteit ongelukkig nalaat om hierdie noodsaaklike instandhoudingswerk te verrig, en daarom word die strate onrybaar. “Dit is goed dat gemeenskappe self inspring en herstelwerk doen, maar die basiese verantwoordelikheid bly steeds die munisipaliteit s’n en AfriForum sal aanhou om druk toe te pas sodat die munisipaliteit sy verpligtinge nakom.”

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Vryburg” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings