AfriForum-tak in Vryburg eis volhoubare antwoorde van munisipaliteit


Die AfriForum-tak in Vryburg het op Vrydag, 17 Februarie 2017, opnuut ʼn stel vrae aan Neo Skalk, die burgemeester, en Conny Malefo, waarnemende munisipale bestuurder van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit, oorhandig.
Die vrae moet teen 3 Maart 2017 beantwoord word. Die tak sal met die gemeenskap en kundiges konsulteer om oor verdere optrede te besin, indien geen terugvoer ontvang word nie. Die vorige vrae wat by ʼn gemeenskapsvergadering oorhandig is, is nie bevredigend beantwoord nie, want daar is nie volhoubare oplossings vir die probleme voorgestel nie. Die tak se komitee vir plaaslike regering het in die nuwe skrywe hul vrae aan die betrokke amptenare uitgebrei en meer breedvoerig verduidelik.

“Die vrae handel oor die elektrisiteitskrisis en ander diensleweringsprobleme. ʼn Gedeelte van die Eskomskuld is wel betaal, maar waar gaan die geld vir verdere afbetalings vandaan kom? Ons wil antwoorde op hierdie kwessies hê en eis volhoubare planne. Die munisipaliteit se groot personeelkorps en ander diensleweringskwessies word ook in die skrywe bevraagteken,” sê Alta Pretorius-Swart, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.
“Ons word nie meer met mooi broodjies gepaai nie, ons wil uitvoerbare en volhoubare oplossings hê. Die AfriForum-tak is meer as bereid om die munisipaliteit by te staan, maar dan moet al die kaarte op die tafel wees,” sluit Pretorius-Swart af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Vryburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings