AfriForum-tak in Springbok moniteer terugbetalings deur Aubrey Baartman


AfriForum se Springbok-tak het in 2014 ’n hofsaak teen Aubrey Baartman, voormalige munisipale bestuurder van die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit, gewen. Die hof het beslis dat Baartman nie oor die nodige kwalifikasies beskik om as munisipale bestuurder te dien nie. AfriForum moniteer nou Baartman se betaling van regskoste ten bedrae van R97 000 aan die burgerregte-organisasie.

“AfriForum voel verder dat dit onregverdig sal wees as die munisipaliteit hierdie koste namens Baartman betaal, want in effek is dit dan belastingbetalers wat sy regskoste afbetaal,” sê Sarel Stone, voorsitter van AfriForum se Springbok-tak.

Daar is op Baartman se bates beslag gelê, maar dit was skaars 15% van die bedrag. Hy het egter ooreengekom om R5 000 per maand te betaal. Baartman het vanaf September 2015 tot en met Mei 2016 getrou betaal, maar toe gestop. Hy is deur die hof beveel om sy maandelikse terugbetaling te doen en het sedert November 2016 weer begin betaal. Hy skuld nog R29 000.
Stone sê verder dat dit nog ’n lang betaalpaadjie vir Baartman is en dat dit ’n les moet wees vir alle persone en instansies wat sulke kanse vat.
Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Springbok” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings