| | |

AfriForum-tak maak ’n verskil in Stilfontein en Orkney

Die AfriForum-tak in Stilfontein – wat Orkney insluit – werk onverpoosd om ’n verskil in dié dorpe te maak. Dít geskied te midde van die COVID-19-pandemie, myne wat sluit en tot werkloosheid lei, en die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om dié dorpe behoorlik te bestuur.

Elke dorp het ’n baie aktiewe WhatsApp-groep waarop inwoners klagtes oor plaaslikeregeringsake kan aanmeld. Jonathan Fourie, die tak se beampte vir plaaslikeregeringsake, bespreek dié klagtes met die munisipaliteit en gee terugvoer aan die inwoners.

In Stilfontein is 18 klagtes oor plaaslikeregeringsake aangemeld. Dié klagtes sluit onder meer in gebarste waterpype, brandkrane wat lek, ’n reservoir wat oorstroom, vullisverwydering wat nie gebeur nie weens ’n staking, straatligte wat stukkend is, rioolverstoppings en kabeldiefstal. 31 klagtes is in Orkney ontvang, wat insluit straatligte wat nie werk nie, oorgroeide sypaadjies, gebarste waterpype en geen vullisverwydering weens ’n staking.

“Ek probeer om waar moontlik self inspeksie te doen wanneer klagtes soos gebarste waterpype, rioolverstoppings en kabeldiefstal aangemeld word. Só kan ek my van die probleem en omstandighede vergewis en die feite op die groep kan plaas. Samesprekings is ook met die munisipaliteit gevoer oor werkers in die vullisverwyderingafdeling wat staak, asook oor die betaling van oortyd tydens die COVID-19-tydperk,” sê Fourie.

Kospakkies is in Junie op Maandae, Woensdae en Vrydae aan behoeftiges in Stilfontein afgelewer. ’n AfriForum-projek vir die verspreiding van kospakkies in Stilfontein en Orkney is ook van stapel gestuur. Verskeie AfriForum-buurtwag- en -bestuurslede, asook vrywilligers van Stilfontein en Orkney, en politieke partye het hieraan deelgeneem.

’n Opname word tans in Stilfontein en Orkney gedoen oor die swak toestand van paaie sodat ’n plan beraam kan word om dié paaie te herstel.

“Dit is verblydend dat die gemeenskap self inspring om die dorpe te verbeter. Die werk wat Jonathan elke dag doen om probleme in die dorpe op te los, is van onskatbare waarde. Verder maak die kospakkies wat aan mense in nood uitgedeel word ’n reuseverskil in hierdie dorpe, waar myne sluit en mense hul werk verloor. Ek het regtig groot waardering vir die verskil wat hierdie tak maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak. Word deel van die verskil: SMS “Stilfontein/Orkney” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings