|

AfriForum-tak in Vryburg bied hulp aan administrateur van Naledi-munisipaliteit

Die AfriForum-tak in Vryburg, wat Stella insluit, is uiters bekommerd oor die haglike omstandighede waarin die Naledi Plaaslike Munisipaliteit hom tans bevind ondanks die feit dat dit onder sakeredding geplaas is.

Nadat die tak ’n aktivistiese aksie geloods het waartydens die gemeenskap hulle vullis na die munisipaliteit geneem het uit protes teen swak dienslewering, het die tak met Paul Maseko, die nuut aangestelde administrateur, vergader om klagtes aan hom voor te lê.

Maseko het die AfriForum-afgevaardigdes openlik verwelkom en die klagtes wat AfriForum aan hom wou voorlê reeds gelys. Hy is deeglik bewus van die volgende probleme in die munisipaliteit: Strate wat onbegaanbaar is weens slaggate, blokkasies en lekkasies wat veroorsaak dat rou riool in die strate vloei, asook pype wat bars weens swak of geen instandhouding ondanks die groot waterkrisis wat talle inwoners sonder water laat.

Daar is begin om slaggate op te vul en die plaaslike AfriForum-tak gaan ook slaggate in samewerking met die munisipaliteit opvul. Drie kontrakteurs is ook aangestel om die groot rioolprobleem die hoof te bied.

Vullis word nie gereeld verwyder nie, wat veroorsaak dat Vryburg en Stella vuil is, terwyl die vullisterrein ook nie meer onderhou word nie wat tot gevolg het dat vullis nie behoorlik gestort kan word nie.

Elektrisiteitsvoorsiening is ’n groot bron van kommer en hoewel talle inwoners van voorafbetaalde krag gebruik maak, is Eskom dikwels nie in die verlede betaal nie. Inwoners se krag word nou beperk en afgesny indien dié perk oorskry word wat beteken dat inwoners skade ly. Maseko het intussen ’n ooreenkoms met Eskom aangegaan wat hopelik die ligte sal aanhou.

AfriForum het Maseko gevra om met inwoners te kommunikeer sodat hulle weet wat in die dorp aangaan en daarvolgens kan beplan. Hy het daartoe ingestem en die hoof van kommunikasie opdrag gegee om inwoners op hoogte te hou. AfriForum sal die proses egter deurlopend moniteer.

“’n Mens sal dae lank kan kla oor alles wat met dié munisipaliteit fout is. Die kruks van die saak is dat politiek in munisipaliteite nie werk nie. Politieke aanstellings word gemaak en diegene het geen bevoegdheid om die werk te doen nie. Indien die provinsiale of selfs nasionale owerheid nie ingryp en iets daadwerkliks doen nie, sal baie dorpe tot niet gaan. Ons is optimisties om iemand hier te hê wat die probleme raaksien en erken. AfriForum gaan sy bes doen om saam te werk. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om hand by te sit wanneer AfriForum aksies dryf,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings