|

AfriForum-tak in Vanderbijlpark vul slaggate op

AfriForum se Vanderbijlpark-tak het op 17 Augustus 2019 in samewerking met die Laerskool D.F. Malherbe en van die leerders se ouers ingespring en slaggate rondom die skool herstel.

Ongeveer drie ton teer is gebruik om die slaggate op te vul en die projek was ’n reusesukses. Die tak het beplan om die projek oor twee naweke te voltooi, maar met al die mannekrag is dit binne vyf ure voltooi. AfriForum-vrywilligers en die ouers het die verkeer gereguleer en die gemeenskap het bygedra om etes vir die werkers en AfriForum-vrywilligers te gee.

“Aangesien daar ’n groot probleem met slaggate in die omgewing is, het die Vanderbijlpark-tak besluit om minder van die regering afhanklik te wees en eerder selfonderhoudend te word,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Volgens Anton Stander, omgewingsakebeampte vir die Vanderbijlpark-tak, het die tak twee borge gehad vir bitumen waarmee die gate voorberei is. “Ek wil graag almal wat betrokke was, bedank. Met só ’n positiewe gesindheid kan ’n groot verskil in Vanderbijlpark gemaak word.”

Raak vandag nog by AfriForum se Vanderbijlpark-tak betrokke: Stuur ’n e-pos na afriforumvdb@gmail.com of ’n SMS na 072 908 1345.

Soortgelyke plasings