|

AfriForum-tak in Coligny wil self rioolprobleme pak

Die departement van water en sanitasie sal dringend moet ingryp om die ernstige rioolprobleme in Coligny in Noordwes op te los.

Só meen Frans Gerber, voorsitter van dié dorp se AfriForum-tak.

Volgens Gerber vra inwoners dringende ingryping omdat die dorp se onhigiëniese toestand negatiewe implikasies vir hul gesondheid, asook toerisme inhou. Hy meen die AfriForum-tak in Coligny is ook bereid om self in te gryp om die haglike omstandighede, wat weens die Ditsobotla-munisipaliteit en departement se swak rioleringbestuur ontstaan het, aan te pak.

“Mense wat deur die dorp ry, ruik die stank oral. Riool vloei daagliks ongehinderd deur verskeie strate en spruite. Ons is bereid om self te probeer ingryp om die probleem op te los.”

Volgens Gerber het die departement van waterwese en sanitasie gister die dorp besoek en gesê dat daar nie fondse beskikbaar is om die dorp se rioolsuigpompstasie, wat reeds vir ʼn geruime tyd buite werking is, reg te maak nie.

Boonop is die rioolvakuumpomp wat op die munisipaliteit se tenkwa is ook stukkend.

Gerber het aan Forum Nuus gesê dat die AfriForum-tak dit enkele weke terug self reggemaak het en ʼn private trekker gebruik het om met die wa te ry.

“Die munisipaliteit se tenkwabestuurder het ons bestuurder gedreig en gesê hy sal hom doodmaak omdat hy sy werk doen. Hulle het toe die tenkwa teruggevat en nou is dit wéér stukkend. Dit maak ons regtig moedeloos want al wat ons probeer doen, is om die toestand van ons dorp te verbeter.”

Volgens Hendrik Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes en Vrystaat-Oos, is die implikasies van die dorp se rioolprobleem baie groter as wat mense besef. “Ons kan vir nou verskeie korttermynoplossings vir die inwoners van Coligny bied en seker maak dat genoeg druk op die munisipaliteit geplaas word om die probleem aan te spreek, maar uiteindelik moet die departement van water en sanitasie aanspreeklik gehou word vir die dorp se rioolbestuur.

Hy meen daar is ernstige bedenkinge oor of die departement sal kan ingryp aangesien hul bankrot is.

Luidens mediaberigte het die nasionale tesourie in Februarie versoek dat die departement van water en sanitasie onder administrasie geplaas moet word nadat bevind is hul weens swak interne beheer, projekbestuur en kontrakbestuur meer as R4,3 miljard in die rooi is.

Sifiso Mkhize, finansiële hoofamptenaar van die departement, het toe teruggekap en gesê die bankbalans van die departement staan op R2,9 miljard.

Leon Basson, DA-woordvoerder oor water en sanitasie, het gesê dat al hoe meer bewerings van wanadministrasie en korrupsie uit die departement na vore kom sedert die party in Februarie bekend gemaak het dat die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhewbane, vir Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, ondersoek vir die beweerde inmengery by tenderprosesse.

Die DA het ook in 2016 ’n ondersoek aangevra na die proses wat gevolg is met die aanstelling van Dan Metlana Mashitisho as nuwe direkteur-generaal in die departement.

Volgens Basson weet Mashitisho “niks” van water af nie.

Soortgelyke plasings