AfriForum-tak in Delareyville verrig opknappingswerk


Die AfriForum-tak in Delareyville is besig met instandhoudingswerk in die dorp aangesien die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit versuim om sy pligte in hierdie verband na te kom.
Jacques du Plessis, komiteelid van die tak, het reeds ses stoptekens vervang en die tak beoog om nóg stoptekens te vervang waar nodig.

“Dit is baie gevaarlik as daar nie duidelike stoptekens is nie, veral vir besoekers aan ons dorp. Daarom het die AfriForum-tak gevoel dat dit ’n prioriteit is,” sê Rassie Taljaard, voorsitter van AfriForum se Delareyville-tak.

Die tak het ook besluit om vullisdromme in die dorp aan te bring, omdat daar so baie vullis in die dorp gestrooi word weens ’n gebrek aan asblikke. Onder leiding van Pierre du Plessis, ’n komiteelid, is 12 dromme reeds gemonteer, wat dit moeilik maak om weg te dra en maklik om leeg te maak.

“Dit maak reeds ’n groot verskil in die dorp en die tak versoek dat lede van die publiek dromme sal skenk indien moontlik. Dit gee ’n mens weer hoop vir die toekoms om te sien dat mense vir hul dorp omgee en self hand aan die ploeg slaan in stede van bloot murmureer,” sê Alta Pretorius-Swart, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

SMS “Delareyville” na 45351 om by AfriForum aan te sluit (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings