AfriForum-tak in Delareyville speel klaar met vullis


AfriForum se Delareyville-tak het inwoners van dié dorp uit pure moedeloosheid aangeraai om hulle vullis na die munisipale kantore te neem omdat vullisverwyderingsdienste nie gelewer word nie.
Van die inwoners het die afgelope week die daad by die woord gevoeg. ’n Maandelikse fooi word van hulle gehef vir dienslewering, insluitend vullisverwydering, maar min of geen hiervan word in werklikheid gelewer nie.

“Inwoners raak gefrustreerd dat vullis vir verwydering uitgesit word en wanneer dit nie verwyder word nie, verskeur honde dit en veroorsaak dat Delareyville soos ’n vullisterrein lyk, om nie te praat van die gesondheidsrisiko’s wat dit inhou nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Volgens Pretorius het die plaaslike AfriForum-tak al verskeie skrywes aan die munisipale bestuurder, Dusty Moate, gerig en onder meer versoek dat uitstaande skuld aan ’n werktuigkundige betaal moet word sodat die vullisverwyderingstrekker herstel kan word. In die verlede het boere hulle trekkers beskikbaar gestel vir hierdie werk, maar dit is tans druk werktyd op die plase en dit blyk dat die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit self geen moeite doen om die probleem op te los nie. Ná die jongste aanmaning het die munisipaliteit egter vir die herstelwerk aan die trekker betaal.

“Die feit dat die munisipaliteit dieselfde dag nog ’n vullisverwyderingsvoertuig vanaf Sannieshof laat kom het om skoon te maak, wys dat daar wel ’n plan gemaak kan word. AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toe te pas, want dienslewering is ononderhandelbaar,” sluit Pretorius af.

Raak by AfriForum betrokke: SMS “Vullis” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings