AfriForum-tak in Delareyville help om water aan inwoners te voorsien


Weens die feit dat die gemeenskap van Delareyville sedert verlede week geen water het nie, het die plaaslike AfriForum-tak en ander lede van die gemeenskap ingegryp om dié dorp se mense van water te voorsien.
Pierre du Plessis, ’n bestuurslid van AfriForum se Delareyville-tak, het ’n watertenk by die plaaslike AGS-kerk geplaas waar mense van die boorgatwater kan gaan haal. Boere van die omgewing ry ook groot tenks water aan.
Delareyville ervaar reeds ’n geruime tyd ’n watertekort weens wanbestuur deur die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit wat ’n totale gebrek aan dienslewering veroorsaak. Inwoners van die informele nedersetting het in opstand gekom en munisipale werkers verjaag om hul ontevredenheid met die situasie te wys.

Munisipaliteitsamptenare het ook begin bedank. “Die druk raak nou té groot vir die Tswaing-munisipaliteit. Hulle is só ver met dienslewering agter dat hulle onmoontlik weer sal kan inhaal. Gelukkig gryp lede van die publiek en organisasies soos AfriForum in om die situasie te probeer verlig,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings