AfriForum stuur omvattende veldtog teen wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering van stapel


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n omvattende veldtog teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) van stapel gestuur. Die veldtog gaan onder meer aktivistiese aksies, die werf van mediadruk en die insameling van openbare kommentaar behels.
AfriForum staan die NGV vurig teen omdat dit in werklikheid daartoe sal lei dat die staat die hele gesondheidstelsel nasionaliseer en verbruikers en dokters se vryheid sal inperk.

“Hoewel die wetsontwerp nie die privaatgesondheidsektor uitdruklik afskaf nie, gaan die verpligte belastingbydraes waarskynlik veroorsaak dat die middelklas nie mediesefondsbydraes sal kan bekostig nie. Die NVG sal in effek mediese fondse, die privaatgesondheidsektor en wêreldklas-gesondheidsorg vernietig, terwyl almal van staatshospitale afhanklik sal wees,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Volgens Brink sal die NGV veroorsaak dat die middelklas landuit vlug, terwyl die prysbeheer op fooie en medikasie mediese innovasie sal kortwiek en ook waarskynlik sal veroorsaak dat medici emigreer.

“Dit sal veroorsaak dat daar nóg minder belastingbetalers gaan wees om hierdie onwerkbare skema aan die gang te hou, wat die koste eksponensieel sal laat toeneem.”

Die NGV-wetsontwerp is aan die einde van Junie vanjaar deur dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, in die Staatskoerant gepubliseer. Die publiek het 90 dae vanaf die datum van publikasie om daarop kommentaar te lewer. AfriForum moedig die publiek aan om hul insette by http://www.jougesondheid.co.za te gaan lewer om teen die verwoestende uitwerking wat die implementering van die NGV sal hê, kapsie te maak.

Soortgelyke plasings