AfriForum stig tiende tak in Karoo


Op Woensdag 15 Mei 2019 is AfriForum se Prieska-tak gestig – dié organisasie se tiende tak in die Karoo-omgewing. Tydens ’n vergadering vroeër vanjaar met Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, het gemeenskapslede hul behoefte aan ’n tak uitgespreek. Die gemeenskap het die takbestuur verkies.

“Ons gaan ten nouste met die bestaande Siyathemba-belastingbetalersvereniging (SBV) saamwerk om Prieska ’n veilige en vriendelike dorp te maak,” sê Johan Hennig, voorsitter van AfriForum se pasgestigte Prieska-tak.

Tydens die takstigting is verskeie bekommernisse oor die dorp, waaraan die pasverkose takbestuur hul aandag moet skenk, bespreek. Die tak se eerste projek is ook bespreek en Koos du Pisanie het die gemeenskap vriendelik uitgenooi om daaraan deel te neem.
Hennig het alle bestaande AfriForum-lede en voornemende lede uitgenooi om met die onderskeie bestuurslede te skakel en by die tak se aksies betrokke te raak.

“Om hoop te skep, moet mens klein begin en van dié klein projekte ’n groot sukses maak. Ek glo hierdie tak gaan net van krag tot krag gaan – met hul projekte, asook die gemeenskap se ondersteuning,” sê Smit.

Soortgelyke plasings