AfriForum stig teenrassisme-eenheid


’n Nuutgestigte eenheid teen rassisme en haatspraak is vandag tydens ’n konferensie in Centurion amptelik deur AfriForum van stapel gestuur. Verskeie rolspelers, wat hulle as raadgewers tot hierdie eenheid verbind het, het as sprekers by die konferensie opgetree en verskillende aspekte van wat die die eenheid beoog om te bereik, uitgelig. ’n Verslag getiteld Confronting racism consistently is ook by die geleentheid bekend gestel.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, wat die teenrassisme-eenheid gaan lei, het tydens die konferensie beklemtoon dat AfriForum alle vorme van rassisme en haatspraak sal beveg, maar dat die eenheid ook standpunt gaan inneem teen dubbele standaarde met betrekking tot rassisme en haatspraak.

“Ons navorsing dui voortdurend daarop dat wit rassisme deurlopend aggressief veroordeel word, terwyl swart rassisme dikwels geïgnoreer, of in sekere gevalle selfs verdedig word. Om een vorm van rassisme te beveg en terselfdertyd ’n ander vorm van rassisme te aanvaar, verdedig of selfs te bevorder, is op sigself ook ’n vorm van rassisme.”

Die temas wat die onderskeie raadgewers by die konferensie behandel het, sluit in:

  • Dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Instituut van Rasseverhoudings (IRR) het aangedui dat hul navorsing herhaaldelik daarop dui dat die oorgrote meerderheid mense van alle rasse in Suid-Afrika in vrede met mekaar wil saamleef, maar dat daar wel ’n probleem by die ekstreme pole bestaan, waar rassisme aangehits word;
  • Die burgerregte-aktivis Rhoda Kadalie het in haar aanbieding beklemtoon dat ras toenemend in Suid-Afrika as politieke wapen gebruik word;
  • Adv. Mark Oppenheimer, spesialis in spraakvryheid en haatspraak, het die lyn tussen vryheid van spraak en haatspraak uitgelig en riglyne gegee vir die bevordering van spraakvryheid, terwyl haatspraak beveg word; en
  • Dr. Llwelyn Curlewis, strafregkenner, het die regsremedies wat tot mens se beskikking is om rassisme te beveg, uitgelê.

Roets het ook tydens die konferensie ’n breë aksieplan vir hierdie eenheid uitgelê. Dit sluit die volgende in:

  1. deelname aan gesprekke en ideevorming oor die kwessie;
  2. konsekwente veroordeling van rassisme;
  3. insameling en ontleding van data;
  4. voortdurende navorsing oor rassisme en haatspraak;
  5. siviele litigasie;
  6. strafregtelike klagtes;
  7. privaat vervolging; en
  8. internasionale bewusmaking.

Die eenheid sal deur AfriForum bedryf word en verskeie rolspelers sal deurlopend by die aktiwiteite van hierdie eenheid betrek word.

Soortgelyke plasings