|

AfriForum stig buurtwag in Stilbaai

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 30 Oktober 2019 ’n nuwe buurtwag in Stilbaai gestig. Dié stigting is deel van die AfriForum-tak in Hessekwa se visie van ’n veilige omgewing waarin alle inwoners hul deel kan bydra. AfriForum se Goukou-plaaswag – wat al verskeie suksesse behaal het – vorm ook deel van dié organisasie se veiligheidnetwerk in die omgewing.

“Die nuutgestigte Stilbaai-buurtwag vorm deel van ons takstruktuur en wil die gemeenskap in samewerking met die polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies in tye van nood bystaan,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

David Olivier, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Suid-Kaap, het ná die stigting opleiding in regsaspekte tydens patrollies vir die nuwe buurtwaglede aangebied. Deeglike geakkrediteerde opleiding is een van die groot voordele wat AfriForum aan sy buurtwagte bied.

“Ek is baie opgewonde oor die stigting van ons buurtwag en nooi die gemeenskap uit om by ons in te skakel. Ons kan die geveg teen misdaad nie langer op die skouers van die polisie alleen laat rus nie – ons moet self betrokke raak,” sê Conrad Farrel, voorsitter van AfriForum se Stilbaai-buurtwag.

Raak vandag by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings