|

AfriForum stig buurtwag in Malalane 

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 1 Julie 2020 ’n buurtwag in Malalane op die been gebring nadat gemeenskapslede die organisasie genader het om ’n buurtwag te stig. Die buurtwag gaan saam met plaaslike veiligheidsinstansies en die polisie werk om misdaad in dié dorp te bekamp.

Lede wat by die buurtwag aansluit, geniet verskeie voordele, soos regsondersteuning vir buurtwagwerksaamhede, opleiding in verskeie modules wat op buurtwagte fokus en toerusting soos glimbaadjies, koeëlvaste baadjies, flitse en patrollieligte.

“Ons is slaggereed om misdaad in die omgewing te bekamp. AfriForum bemagtig ons om met die nodige kennis en rugsteun om ’n verskil te kan maak om die veiligheid van die gemeenskap te help verseker,” sê Alwin Carstens, voorsitter van AfriForum se Malalane-buurtwag.

AfriForum het vanjaar verskeie grondgrype in die Laeveld met behulp van sy tak- en buurtwagstrukture gekeer en het ook by onluste ondersteuning gebied.

“AfriForum se veiligheidstrukture tree volgens die wet op en dra regoor Suid-Afrika op verskeie maniere by om misdaad te bekamp. Die buurtwaglede hanteer gevalle van inbrake tot ernstiger misdade soos plaasaanvalle,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Raak vandag nog by dié nuwe buurtwag betrokke: Kontak Carstens by 082 388 1449 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings