|

AfriForum stig buurtwag in Ermelo

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 1 Julie 2020 ’n nuwe buurtwag in Ermelo gestig.

Die buurtwagbestuur bestaan uit Heinrich Jansen van Rensburg (voorsitter) en Frikkie du Plessis (koördineerder). Ander AfriForum-buurtwagte in die nabye omgewing sluit die Standerton-buurtwag, wat al verskeie suksesse behaal het, in.

“Dié buurtwag vorm deel van ons takstruktuur en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies in tye van nood by te staan,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Hoëveld.

“Ek is baie opgewonde oor die stigting van ons buurtwag en nooi die gemeenskap uit om by ons in te skakel. Ons kan nie langer die geveg teen misdaad op die skouers van die polisie alleen laat rus nie; ons moet self betrokke raak,” sê Jansen van Rensburg.

Lede wat by dié buurtwag aansluit sal onder meer opleiding ontvang in verskeie modules wat op buurtwagte fokus. AfriForum bied ook deurlopend opleiding aan die organisasie se buurtwagte om te verseker dat lede binne die raamwerk van die wet optree en het tydens die COVID-19-pandemie telematies opleiding aan die buurtwagte gebied.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings