AfriForum stig buurtwag in groter Delmas-omgewing


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 16 Augustus 2017 ‘n buurtwag in die groter Delmas-omgewing gestig om misdaad te takel en om verskillende buurtwagstrukture in dié dorp by te staan.
Die oorhoofse AfriForum-buurtwagstruktuur bestaan uit bestuurslede vanuit die volgende buurtwagte, naamlik: die Delmas Valke, Argent, Eloff Dorp, Eloff Valke, Droogefontein, Modder-Oos en Sundra Bulldogs.

“Die buurtwag vorm deel van ons takstruktuur, en ons is hier om die gemeenskap te dien en by te staan in tye van nood deur saam met die Suid-Afrikaanse Polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies te werk. AfriForum-buurtwaglede teken ‘n streng gedragskode om te verseker dat hul binne die raamwerk van die wet optree,” het Hillel Coetzer, streekskoördineerder van Mpumalanga-Wes, gesê.
“Ons wil graag die oorhoofse struktuur uitbrei en versterk om sodoende kommunikasie en samewerking in ons omgewing te verbeter. Soos die struktuur groei sal die Delmas-omgewing se verskillende buurtwagte met AfriForum hande vat en begin om voordeel te trek uit die buurtwagvoordele wat AfriForum bied,” sê Carel Botha, voorsitter van die AfriForum-tak in Delmas.
“Die plaaslike buurtwagstrukture bly onveranderd,” sê Coetzer. Hy sê dat hierdie oorhoofse buurtwag in plek gesit is vir beter kommunikasie en samewerking en dat dié buurtwaglede wat met AfriForum hande vat sekere voordele geniet, soos lewensversekering, regsbystand, toerusting en toegang tot AfriForum se nasionale radionetwerk.

AfriForum doen ‘n beroep op die gemeenskap om in te skakel en betrokke te raak by hul plaaslike veiligheidsnetwerke. SMS “BUURTWAG” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings