AfriForum stig buurtwag in Fochville


Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 28 Junie 2019 ’n loodskomitee in Fochville op die been gebring met die doel om ’n buurtwag in die gemeenskap te stig. Dié buurtwag is amptelik op 4 Julie 2019 gestig.

Die Fochville-gemeenskap het die afgelope jaar die behoefte om hulself te organiseer en teen misdaad in die omgewing op te tree, geïdentifiseer. Hulle sal nou in staat wees om die plaaslike polisie en geakkrediteerde veiligheidsinstansies met misdaadbekamping by te staan en nooddienste se hand te sterk.
Die buurtwagbestuur bestaan uit Eugene Potgieter (voorsitter) en Corlea Janse van Vuuren (sekretaris).

“Die doel van die nuwe buurtwag is om die gemeenskap in samewerking met die polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies in tye van nood by te staan,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.
“Die bestuur van die Fochville-buurtwag is baie opgewonde om die pad vorentoe saam met AfriForum te stap. Om die gemeenskap meer weerbaar te maak gaan samewerking tussen verskillende instansies soos die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), polisie en geakkrediteerde veiligheidsinstansies en nooddienste baie belangrik wees,” sê Eugene Potgieter, voorsitter van AfriForum se Fochville-buurtwag.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “buurtwag” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings