AfriForum stel verslag vry van openbare beskermer se eerste 100 dae in die amp


Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n verslag vrygestel oor adv. Busisiwe Mkhwebane se eerste 100 dae in die amp van die nuwe openbare beskermer (OB). Dié tydperk loop op 24 Januarie 2017 ten einde. AfriForum ondersoek in die verslag haar mees omstrede en merkbare aksies tot op hede, en maak gevolgtrekkings daaruit.  
Die mees omstrede en merkbare aksies sluit in –

  • die kritiek op adv. Madonsela voor die parlementêre portefeuljekomitee vir geregtigheid en korrektiewe dienste;
  • die beweerde verandering van die TV-kanaal in die OB-kantore van eNCA na uitsluitlik dié van ANN7;
  • die besluit om nóg president Jacob Zuma, nóg minister Des van Rooyen se interdik teen die staatskapingsverslag teen te staan;
  • die saak wat sy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig gemaak het in verband met die lek van klankopnames wat die staatskapingsonderhoud tussen adv. Madonsela en president Zuma bevat het; en
  • die geval met adv. Madonsela se personeelhoof, wat na bewering deur sekuriteitspersoneel uit haar kantoor vergesel is.

“AfriForum is bekommerd oor die indrukke wat adv. Mkhwebane besig is om van haarself en haar kantoor te skep. Dit wil voorkom of sy haar bes probeer om haarself van haar gewilde voorganger te distansieer, maar in die proses posisioneer sy haarself nader aan president Zuma en die korrupsiebewerings wat hom omring,” sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Hoewel AfriForum bekommerd is oor die indrukke wat die nuwe OB skep, is daar ook ’n paar positiewe dinge om in ag te neem. Adv. Mkwebane se planne om die enorme agterstand in sake af te handel en die toeganklikheid van haar kantoor te verhoog, behoort geprys te word.

“Ons wag in spanning op die eerste verslag wat sy of mense onder haar toesig aanpak en/of uitvoer. Dié verslag sal ware insig oor haar planne gee en mag baie vinnig die publiek se indrukke van haar verander na dié van ’n ware openbare beskermer,” sê Roets.

AfriForum beoog om die kantoor van die openbare beskermer te moniteer om seker te maak dat dit sy pligte nakom soos in die Grondwet en nasionale wetgewing vervat.
 

Soortgelyke plasings