AfriForum stel veiligheidsgids vir skole bekend


Die burgerregte-organisasie AfriForum is opgewonde om ’n nuwe skoleveiligheidsgids in samewerking met AfriForum se onderwys- asook gemeenskapsveiligheidsbene bekend te stel.
Hierdie nuwe skoleveiligheidsgids sal skole in staat stel om te verseker dat hulle oor die nodige en korrekte veiligheidsmaatreëls beskik sodat die skool voorbereid en leerders en onderwysers in ’n noodsituasie veilig kan wees.

“Tydens die Hoërskool Overvaal-voorval in 2018 en die talle onluste wat reeds in 2019 by skole regoor die land plaasgevind het, is dit weer eens bevestig dat veiligheidsmaatreëls vir skole dringend onder die loep geneem sal moet word. Ons vind dat skole in baie gevalle nie gerat is om sulke insidente te kan hanteer nie en daarom het ons hierdie gids saamgestel,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum. “Aspekte waarna die gids kyk, is byvoorbeeld om seker te maak dat die skool se omheining ’n doeltreffende hoogte is en van duursame materiaal gemaak is wat nie maklik vernietig kan word nie, asook om seker te maak dat daar voldoende nooduitgange en brandblussers is. Daar is ontsettend baie veiligheidsaspekte wat ʼn mens kan miskyk, maar wat die potensiaal het om in ’n  noodsituasie ernstige probleme te veroorsaak,” sê Bloem.
“Met die vrystel van die skoleveiligheidsgids wil AfriForum skole bemagtig om proaktief op te tree deur oudits by skole te doen wat betref die veiligheid van die skool en leerders, en om maatreëls in plek te stel om die veiligheid van die leerders in skole te verbeter,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Lede van AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling gaan skole in verskillende dorpe tydens AfriForum se ankerdorppadskou besoek om te verseker dat hierdie skole die korrekte veiligheidsmaatreëls in plek het. Die padskou gaan van Februarie 2019 tot November 2019 plaasvind.
AfriForum wil ook graag skole, ouers en onderwysers uitnooi om ’n SMS na 42314 te stuur indien daar ’n behoefte is dat die skole in die gemeenskap besoek word.

“AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling wil saam met ons lede by dorpe en skole betrokke raak om ons gemeenskappe en skole te beveilig,” sê Ian Cameron.
Die gids is in Afrikaans en Engels beskikbaar en is daar om alle skole te beveilig. Dit is elke leerder en onderwyser se reg om gehalte-onderrig in ’n veilige omgewing te ontvang”, sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings