| | |

AfriForum stel COVID-19-gemeenskapsplan bekend

AfriForum het vandag ’n omvattende plan bekendgestel vir gemeenskappe wat onder die volgehoue COVID-19-inperking ly. Die plan fokus op veiligheid, die ekonomie, voedsel, gesondheid en munisipale dienste binne gemeenskappe en sluit ook skolehulpprojekte in samewerking met AfriForum Jeug in. Die organisasie het ook oor die AfriForum Netwerk uitgebrei waarop meer as 10 000 ondernemings reeds gratis geregistreer het.

Volgens Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling, het dié plan ten doel om staatsonafhanklikheid, selfstandigheid en gemeenskapsamewerking te bevorder om gemeenskappe en gemeenskapslede op te hef, te versterk en te ondersteun.

“Dis belangrik dat ons nou eienaarskap van ons toekoms neem en sáám bou,” sê Kruger.

Hy sê ook dat AfriForum op volhoubare selfbestuurmodelle vir munisipale dienste kan voortbou danksy vrywilligers wat landwyd by AfriForum-takke en -buurtwagte ingeskakel is. Só kan ernstige voedselnood verlig word, veiligheidsinisiatiewe versterk word en voldoende voorbereiding getref word vir die heropening van onder meer skole en kleuterskole.

“Die grootskaalse voedselverspreidingsprojek wat onlangs in samewerking met Solidariteit Helpende Hand en Saai van stapel gestuur is, beklemtoon die krag van gemeenskappe,” voeg Kruger by.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsveiligheid, kan honger, armoede en die verlies aan inkomste tydens die huidige inperking tot ’n toename in misdaad lei.

“AfriForum se veiligheidstrukture is gerat om binne die raamwerk van die wet op te tree indien dit nodig sou wees. Ons is tans ook besig om aanlyn opleiding vir veiligheidstrukture uit te brei. AfriForum se strukture gaan ook volstoom met die verspreiding van voedsel en noodsaaklike items in gemeenskappe voort,” sê Cameron.

Die burgerregteorganisasie plaas ook ’n verskerpte fokus op ekonomiese voortuitgang in gemeenskappe. Met behulp van die AfriForum Netwerk word daar ’n landwye netwerk geskep waar klein en mediumgrootte ondernemings maklik opgespoor, aangespoor en ondersteun kan word.

AfriForum sal voortgaan om aksies van stapel te stuur en skroom nie om die howe te nader om te verseker dat gemeenskappe en minderhede se regte beskerm word.

Klik hier om die volledige plan te lees.

Soortgelyke plasings