AfriForum: Staat moet nou akkurate en tydige inligting oor COVID-19 uitreik

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die regering vandag gemaan om akkurate en tydige inligting oor COVID-19 tydens die nasionale inperking bekend te maak.

Dr. Eugene Brink, gesondheidswoordvoerder by AfriForum, sê die staat was by tye traag met gereelde opdatering van die inligting.

“Nadat die syfers Woensdagoggend uitgereik is, was daar eers weer Donderdagaand ’n syfer uitgereik. Ons dring daarop aan dat presiese syfers tydig uitgereik word sodat die publiek kan weet hoe die geveg teen hierdie krisis vaar.

“Die inperking is ’n enorme en ongekende kollektiewe opoffering wat mense se sakke en lewens hard gaan tref en geen sektor onaangeraak laat nie. Die minste wat die staat kan doen, is om die publiek eerlik op hoogte te hou van presies hoeveel gevalle en sterftes daar is en waar hulle voorkom, asook wat gedoen word om COVID-19 te voorkom en bekamp. Die regering mag geen ander inligting weerhou waarvan die publiek bewus moet wees nie.”

Volgens Brink word verantwoordbaarheid allermins nou opgeskort en halwe waarhede moet ook vermy word. “Slegs die volle waarheid en deursigtigheid sal voorkom dat fopnuus hieroor versprei word, dat die publiek in onsekere tye onrustig raak en dat valse gerugte ontstaan wat paniek saai. Dit sal ook verseker dat die inperking suksesvol deurgevoer en betyds beëindig word.”

Die publiek word terselfdertyd ook aangemoedig om geen inligting oor COVID-19 goedsmoeds as die waarheid te aanvaar en versprei nie. “Baie gerugte en fopnuus en -advies doen nou die rondte en kan stellig toeneem. Daarenteen hou AfriForum die publiek deurentyd op hoogte deur middel van ons webblad en sosialemediaplatforms met inligting en betroubare advies wat deur kenners bevestig is,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings