AfriForum staan hervestiging van myngemeenskap met sukses teen


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Naboomspruit-tak het saam met ander rolspelers in die gemeenskap die hervestiging van ’n myngemeenskap naby Naboomspruit suksesvol teengestaan. Dié aksie is in April 2014 geloods toe die Rustenburg Platinum-myn ’n aansoek gebring het om die gemeenskap te hervestig met die doel om die myngebied te vergroot.
AfriForum het voorgehou dat die Lim 368 Plaaslike Munisipaliteit nie genoegsame infrastruktuur en hulpbronne het om die gemeenskap van die nodige dienste te voorsien nie. Dienste soos krag en water, en infrastruktuur soos paaie sal nie op volhoubare wyse aan die nuwe gemeenskap voorsien kan word nie. Die aansoek sou ook meebring dat mense uit ʼn tradisionele woongebied na ʼn gevestigde kommersiële landbou-area hervestig sou word. Boere in die omliggende omgewing sou negatief deur dié hervestiging beïnvloed word.

Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak, meen dat die hervestiging van die gemeenskap na die Lim 368-gebied ’n uiters negatiewe impak op die dorp sou hê. “Die munisipaliteit sukkel reeds om aan die huidige behoeftes van die dorp en gemeenskap te voorsien. Dit is baie onwaarskynlik dat ’n reeds sukkelende munisipaliteit nóg ’n gemeenskap van volhoubare dienste sou kon voorsien.”
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo, is hierdie juis die rol wat ʼn burgerregtewaghond moet vervul. “As die burgery nie hierteen opgetree het nie, sou die myn die munisipaliteit net nog verder in die skuld gedompel het.”

Die saak is op 24 Januarie 2018 deur PlanCentre teruggetrek, wat die myn met die aansoek verteenwoordig het.

Soortgelyke plasings